Nuus 18:00
BULLETIN 30 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie sê Suliman Carrim het sy borgtogvoorwaardes oortree
# AfriForum eis aanspreeklikheid oor miljoene onbeantwoorde noodoproepe na die polisie
# En, AgriSA sê toegang tot die AGOA-wet bly noodsaaklik vir Suid-Afrikaanse landbou
# Die Madlanga-kommissie sê die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, het versuim om te voldoen aan een van die borgvoorwaardes wat deur die Pretoriase Landdroshof gestel is. Die voorwaarde het vereis Carrim se regsverteenwoordigers moet binne 48-uur persoonlik met die kommissie in verbinding tree om sy volgende verskyning te reël. Die woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels, sê egter Carrim se prokureurs het slegs ‘n brief gestuur waarin na die hof se uitspraak oor borgtog verwys is, en hulle het nie die vereiste reëlings getref nie:
# AfriForum dring aan op antwoorde van die polisie oor voortdurende tekortkominge in die 10111-noodoproepsentrumstelsel. Die organisasie het ’n formele versoek om inligting ingedien waarin besonderhede gevra word oor oproepe wat onbeantwoord gebly het, personeeltekorte en verouderde tegnologie. Syfers wat voorheen deur die polisie vrygestel is, toon ongeveer 14,9-miljoen noodoproepe het tussen 2018 en 2024 by elf oproepsentrums is nie beantwoord nie. Jacques Broodryk van AfriForum sê die verandering van die noodnommer sal nie die probleem oplos sonder ’n opgradering van die tegnologie nie:
# AgriSA waarsku die verlies van Suid-Afrika se voorkeurtoegang tot die VSA ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, kan landbouprodusente benadeel wat van die Amerikaanse mark afhanklik is. Hoewel die impak van die produkte sal verskil, kan sekere sektore, insluitend lietsjies, sitrus, tafeldruiwe, gespesialiseerde sade en volstruisprodukte, hoër koste en ’n afname in mededingendheid ervaar indien standaard invoerregte weer ingestel word. Suid-Afrika se geskiktheid vir volgende jaar word steeds hersien, en die regering verwag ’n besluit op 2 November.
# Israel se hoofopposisieleier, Gadi Eisenkot, en leiers van Arabies-geleide partye het eerste minister Benjamin Netanyahu veroordeel oor sy beweerde buitelandse inmenging ná die verkiesing waarin sy koalisie die meerderheid verloor het. Netanyahu se Likud-party beskuldig Israel se Arabies-geleide partye dat hulle die verkiesing “gesteel” het. Amptelike uitslae het bevestig nie een van die twee groeperings kon ‘n meerderheid in die parlement behaal nie. Die twee Arabiese partygroeperings, The Joint List en Ra’am, het ‘n rekordgetal van 19 setels in die 120-setel-Knesset gewen na kiesersdeelname onder Arabiese kiesers skerp toegeneem het.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, glo die Springbok-losskakel Handré Pollard sal fiks wees vir die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Leeus vroeg in Desember. Hy is verlede naweek beseer in die wedstryd teen Ulster en sal nie volgende maand vir die Bokke kan speel in die Nasieskampioenskap se noordelike veldtog nie. Ackermann het Curwin Bosch in die nommer 10-trui aangewys vir môre se kragmeting met Scarlets op Loftus. Die VRK neem ná hierdie naweek ’n blaaskans van ’n maand om vir die toetsgleuf voorsiening te maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-767-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-916-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 118-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….