Nuus 18:00
BULLETIN 27 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident Paul Mashatile vra vir ‘n vreedsame verkiesing en aanvaarding van die uitslag
# ‘n DA-koukusleier in die Vrystaat is op die vooraand van plaaslikeregeringsverkiesing doodgeskiet
# En rugby, die Ierse stut Tadhg Furlong kan geskors word ná beweerde vuilspel
# Adjunkpresident Paul Mashatile versoek Suid-Afrikaners om op 4 November ‘n vreedsame verkiesing te help verseker, politieke geweld te verwerp en die uitslag van die verkiesing te aanvaar. Mashatile het in Ekurhuleni op ‘n kransleggingseremonie vir die bevrydingstryd-veteraan Oliver Reginald Tambo gesê demokrasie floreer as mense politieke verskille met debatte en by die stembus oplos, nie deur konflik nie. Hy vra burgers om die demokratiese waardes waarvoor Tambo en talle ander hul lewens opgeoffer het, te beskerm:
Mashatile het bygevoeg Suid-Afrika se stryd teen ongelykheid is nog nie afgehandel nie, met armoede, werkloosheid en ongelykheid wat steeds miljoene mense raak, en sê die regering en burgers moet saamwerk om hierdie uitdagings die hoof te bied. Mashatile sê Suid-Afrika moet voortgaan om te werk aan ‘n verenigde, nie-rassige, geslagsgelyke en voorspoedige samelewing, in ooreenstemming met Tambo se visie:
# Die DA eis geregtigheid ná die noodlottige skietvoorval waarin sy koukusleier in Metsimaholo, Thulani Mbana, gisteraand in die Vrystaat doodgeskiet is, slegs ‘n week voor die plaaslikeregeringsverkiesing. Mbana was ook ‘n raadslid en het voorheen as lid van die burgemeesterskomitee vir Ruimtelike Beplanning en Menslike Nedersettings gedien. Die provinsiale polisiekommissaris, Solly Lesia, sê die motief vir die moord is steeds onbekend. Roy Jankielsohn van die DA dring aan die skuldiges moet voor die gereg gebring word:
# Pous Leo die Veertiende sal volgende week na Peru terugkeer as deel van ‘n toer deur Suid-Amerika waar hy dekades lank as sendeling en biskop opgetree het. Die pous, wat in Chicago gebore is, het ‘n Peruaanse burger geword en word onthou vir sy hulp aan gesinne tydens die Covid-pandemie, vir hulp ana mense na oorstromings, en ondersteuning aan migrante. Sy besoek aan Peru, Argentinië en Uruguay, vind van 6 tot 17 November plaas. Die 71-jarige pous herstel tans van ‘n operasie vir longkanker, maar dokters sê hy is gesond genoeg om te reis.
# Rugby: Die Ierse stut Tadhg Furlong is aangekla vir beweerde vuilspel tydens Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Munster se Gavin Coombes. Geen onweerlegbare videobewyse is destyds gevind nie, maar ‘n onafhanklike wedstrydbeampte het Furlong intussen aangekla ingevolge rugby se reëls oor onvanpaste kontak. Die Springbok-voorryman Jan-Hendrik Wessels, is in 2025 vir agt weke geskors ná ‘n soortgelyke bewering. Furlong se dissiplinêre verhoor moet nog plaasvind. ‘n Langdurige skorsing kan hom moontlik uit Ierland se internasionale wedstryde in November hou, wat die wedstryde teen die Springbokke insluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-886-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-33-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 116-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….