Nuus 18:00
BULLETIN 12 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika vrees ‘n aanval deur Iran op Israel is op hande
# Makelaars verwag geen rentekoersverlagings vanjaar nie
# En, padsluitings word verwag vir die Twee Oseane-marathon in Kaapstad
# Amerika het reisbeperkings ingestel vir sy ambassadepersoneel in Israel weens vrese oor ‘n aanval deur Iran. Personeel mag nie buite die groter Jerusalem-, Tel Aviv- of Berseba-gebiede reis nie. Dit volg op Iran se belofte dat hy sal terugslaan na ‘n dodelike aanval byna twee weke gelede op sy konsulaat in Sirië, waarvoor Teheran Israel die skuld gegee het. Amerikaanse amptenare verwag die aanvalle sal militêre instellings teiken. BBC News berig Iran steun Hamas sowel as ander militante groepe in die Midde-Ooste.
Intussen beskou die Noorweegse diplomaat Mona Juul, wat tans in Suid-Afrika is, dié land as deurslaggewend vir wêreldvrede. Sy erken Suid-Afrika se potensiaal om te bemiddel in konflikte, soos dié tussen Israel en Palestina, en Rusland en Oekraïne. Juul kritiseer die verlamming van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, en sê dit is hoekom die konflikte in Oekraïne en Gaza voortduur. Juul beklemtoon Suid-Afrika se rol om diplomatieke gapings te oorbrug en internasionale vrede te koester:
# Makelaars verwag die Reserwebank sal rentekoerse vanjaar bestendig hou, sonder ‘n verlaging. Die Monetêre Beleidskomitee vergader volgende maand oor die terugkoopkoers. Ekonome voorspel die bank sal sy beleid voortsit om rentekoerse hoog te hou weens die land se inflasiekoers van 5,6-persent. Die hoë rentekoerse kan tot diep in volgende jaar bly, en weerspieël voortgesette pogings om die ekonomie bestendig te maak te midde van inflasiedruk.
# Boks: Tyson Fury sê Oleksandr Usyk is te klein om hom aan te vat in hulle onbestrede swaargewig-wêreldtitelgeveg. Fury van Brittanje is die WBC-kampioen, terwyl Usyk van Oekraïne die WBA-, WBO- and IBF-titelhouer is. Fury sê die voormalige ligswaargewigkampioen sal op 18 Mei in Saoedi-Arabië sukkel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-935-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-413-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-86-sent per vat
# En, om mee af te sluit: Die Twee Oseane-marathon in Kaapstad sal die naweek tot verskeie padsluitings lei. Môre se ultra-marathon sal gebiede van Nuweland tot Muizenberg raak, insluitend Kommetjieweg en Chapmanspiek-rylaan. Sondag tydens die half-marathon sal sluitings voorkom van Nuweland tot Vishoek, met wegwysings na Ou Kaapse Weg. Hoofpaaie soos die M3 en die Houtbaai-pad sal ook tydelik gesluit wees. Motoriste word gevra om alternatiewe roetes te gebruik om hul bestemmings maklik te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….