Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kenner twyfel of daar tyd is vir ‘n moontlike appèl in die Zuma-saak voor die verkiesing
# ‘n Verkiesingspeiling toon politieke onsekerheid
# En, netbal: Netbal SA kondig ‘n volwaardige beroepsliga aan
# ‘n Regskenner twyfel of daar tyd is vir ‘n moontlike appèl teen die Verkiesingshof se besluit in die Jacob Zuma-saak voor die verkiesing. Llewelyn Curlewis het reageer op die hof se besluit om die Verkiesingskommissie se diskwalifisering van die oud president weens sy misdaadrekord om te keer. Die OVK wil redes vra voor hy besluit oor die pad vorentoe. Curlewis sê die saak is waarskynlik nie so dringend dat hoër howe ander sake opsy sal skuif om dit te hanteer nie.
Die Maatskaplike Navorsingstigting se meningsopname dui intussen op dalende steun vir die regerende ANC slegs ses weke voor die verkiesing op 29 Mei. News24 berig die peiling toon die MK-party, met Zuma se steun, kan die derde grootste in die land word. Die stigting het een-duisend-835 geregistreerde kiesers ondervra. Daarvolgens sal die steun vir die ANC na verwagting ongeveer 37-persent wees, met die DA op 25-persent. Die MK-party kan 13-persent kry en die EFF 11-persent. Die regerende party sal moontlik ‘n koalisie met ‘n groot party moet vorm om beheer te behou.
# Reddingswerkers in Italiё glo hulle sal nie nog oorlewendes vind nie na gister se ontploffing by ‘n hidro-elektriese kragaanleg naby Bologna in die noorde van die land. Drie liggame is gevind na die onderwater-ontploffing op die kunsmatige meer, Suviana, terwyl vyf mense ernstig beseer is. BBC News berig ‘n brand het oёnskynlik uitgebreek nadat ‘n turbine ontplof het op die agste vlak onder die oppervlak. Volgens die polisie sal ‘n ondersoek na die oorsaak van die ongeluk begin sodra die aanleg veilig verklaar is.
# Netbal: Die president van Netbal Suid-Afrika, Cecilia Molokwane, het aangekondig ‘n beroepsliga word volgende jaar ingestel. Vyftien spanne uit al die provinsies sal meeding in twee afdelings, met wedstryde wat op die Ellisparkse arena gespeel sal word. Nog net drie spanne het die semi-professionele liga gewen sedert dit in 2014 ontstaan het: die Jaguars ses keer, Crinums drie keer en Golden Fireballs, een keer. Molokwane sê die 2024 Netballiga word môre van stapel gestuur:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-518-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, steun ‘n Chris Hani-museum. Hy sê Hani, ‘n sleutelfiguur in die demokrasie, verdien sulke erkenning en hy sal ‘n versoek daaroor rig aan president Cyril Ramaphosa. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het vandag die 31ste herdenking van die sluipmoord op Hani in Ekurhuleni gedenk. Nzimande glo Hani sou trots gewees het op die vordering wat gemaak is deur die demokratiese regering:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….