Nuus 18:00
BULLETIN 23 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra ‘n volhoubare oplossing vir oud-staandemaglede se mediese fonds
# ‘n Graad agt-leerder word beskuldig van messtekery by skool in Somerset-Wes
# En, Japan gaan kuberaanvalle naboots terwyl PHP-kwesbaarheid die internet wêreldwyd ontwrig
# Die vakbondfederasie Cosatu sê dringende, langtermynoplossings word benodig om die finansiële krisis by die mediese fonds vir afgetrede lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en hul afhanklikes op te los. Dit volg nadat die regering 840-miljoen-rand bewillig het om die fonds se mediese voordele te help beskerm. Matthew Parks van Cosatu sê die regering moet sy verpligtinge teenoor voormalige militêre personeel nakom en verseker hulle het steeds toegang tot gesondheidsorg.
# Die parlementêre gekose komitee oor Veiligheid en Justisie vra streng interne hervorming in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die komitee het sy oorsig van die polisie se 2025/26-jaarverslag afgehandel en kommer uitgespreek oor die Ouditeur-generaal se ouditbevindings. Wesenlike bevindings oor aangemelde prestasie-inligting het met 35,71-persent gestyg, van 14 in die vorige siklus tot 19. Die komitee se voorsitter, Jane Seboletswe, verwelkom die diens se sesde agtereenvolgende ongekwalifiseerde ouditmening, maar meen finansiële inligting kan nie swak bestuur, nakoming en prestasie wegsteek nie.
# Twee leerders is beseer in ‘n beweerde messtekery by die Helderberg High School in Somerset-Wes. Die voorval het vanoggend plaasgevind toe ‘n graad agt-leerder na bewering vier ander leerders genader en twee van hulle gesteek het. Die polisie se woordvoerder Frederick van Wyk sê die voorval word ondersoek en daar is nog niemand in hegtenis geneem nie:
# Japan gaan ‘n span saamstel om kuber-aanvalle met kunsmatige intelligensie na te boots en swakpunte in rekenaarstelsels te identifiseer. Dit volg terwyl regerings en ondernemings wêreldwyd hulle haas om webwerwe te beveilig nadat kritieke foute ontdek is in die programmeertaal PHP waarmee talle webwerwe bedryf word. Die Japannese selfoonmaatskappy SoftBank het sy noodwaarskuwingstelsel opgeskort terwyl hy aandag gee aan PHP-kwesbaarheid. Kliënte sal nie aardbewing-, tsoenami- of ontruimingsinligting-waarskuwings deur die diens ontvang nie. Amptenare sê IT-sekerheidspanne moet K-I pro-aktief gebruik om swakpunte te identifiseer voor aanvallers dit uitbuit.
# Sokker: Mamelodi Sundowns-afrigter Miguel Cardoso sê sy span sal vandag se tweede kragmeting in die CAF-kampioeneliga teen die Angolese span Wiliete SC soos ‘n bekerfinaal benader. Die spanne kom weer by Loftus Versfeld in Pretoria teen mekaar te staan, nadat die eerste wedstryd gelykop sonder doele geëindig het. Sundowns moet wen om die groepfase te haal, terwyl nog ‘n gelykopuitslag tot ‘n strafskopkompetisie sal lei. Die afrigter sê daar is geen ruimte vir selfvoldaanheid voor vanaand se wedstryd wat om 20:00 begin nie:
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-647-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-994-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 117-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….