Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingshof verleen Jacob Zuma die reg om aan die verkiesing deel te neem
# Die Parlement se Etiek-komitee stel ‘n nuwe gedragskode voor
# En, sokker: Die Kampioeneliga-kwarteindstryde gaan voort ondanks ‘n beweerde terreurdreigement
# Oudpresident Jacob Zuma is toestemming verleen om as ‘n kandidaat vir die MK-party aan die verkiesing deel te neem. Die Verkiesingshof het die Verkiesingskommissie se besluit omgekeer wat hom verbied het om deel te neem weens sy vonnis van 15 maande vir minagting van die hof. Die hof se beslissing baan die weg vir Zuma se kandidatuur, en verwerp teenkanting teen hom, terwyl hy mik om na die politieke arena terug te keer.
# Die Parlement se gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange het ‘n omvattende nuwe gedragskode aanbeveel wat gemik is op die behoud van die integriteit van lede. Die voorgestelde kode maak voorsiening vir leefstyloudits, veral vir voorsittende beamptes, voorsitters van komitees, en party-swepe. Dit verbied ook Parlementslede om afwysende, rassistiese of seksistiese taal te gebruik, asook die aanhitsing van geweld of die bevorderings van haatspraak op sosiale media. Dit volg na onlangse aantygings van korrupsie wat teen die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gemaak is, waarna sy uit haar amp bedank het.
# Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het ‘n beroep gedoen vir die onmiddellike heraanstelling van die redakteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal, Bridget Farham, wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging gedwing is om te bedank. Volgens die organisasie volg haar bedanking op kritiek en beledigings deur pro-Palestynse lede van die vereniging. Sy het in ‘n redaksionele kommentaar die konflik tussen Israel en Palestina bespreek. Wendy Kahn van die Joodse Raad is bekommerd oor SAMA se hantering van die situasie en sy reputasie as ‘n samebindende liggaam vir dokters van uiteenlopende agtergronde:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het aangekondig skole in alle onderwysdistrike sal môre oop wees, insluitend in die Kaapse Wynland en die Overberg. LUR David Maynier het ook bevestig 144 skole het skade aangemeld weens die erge weer, wat wissel van geringe kwessies tot ernstige skade. Kontrakteurs is besig om dit na te gaan en die skade te herstel. Maynier het steun beloof aan skole wat geraak word, met aandag aan veiligheid te midde van uitdagings:
# Sokker: Dié week se kwarteindstryde in die Kampioeneliga gaan voort ten spyte van ‘n beweerde terreurdreigement. ‘n Media-groep wat met die Islamitiese Staat verbind word, het blykbaar ‘n dreigement teen al vier wedstryde uitgereik. Arsenal speel vanaand in Londen teen Bayern München, terwyl Real Madrid en Manchester City in Spanje kragte meet. Môre kom Paris Saint Germain in Parys teen Barcelona te staan en Atletico takel Dortmund in Madrid. SkySports berig sekerheidsmaatreёls is by al die stadions opgeskerp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-374-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….