Nuus 18:00
BULLETIN 22 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel ‘n hersiene witskrif bekend om plaaslike regering te hervorm
# ’n Stigterslid van Umkhonto we Sizwe, Ronnie Kasrils sê MK-rekrute is geleer om teen apartheid te veg, nie teen witmense nie
# En, krieket: Die Proteas looi Australië in die tweede toets om die toetsreeks gelykop te maak
# President Cyril Ramaphosa het groot hervormings aangekondig om munisipaliteite wat nie effektief funksioneer nie, reg te ruk en dienslewering te verbeter. Tydens die bekendstelling van die hersiene witskrif oor plaaslike regering in Ekurhuleni, het Ramaphosa voorgestel munisipaliteite se verantwoordelikhede moet in lyn gebring word met die betrokke munisipaliteite se kapasiteit, aanspreeklikheid moet versterk word, en inkomste uit water en elektrisiteit moet aangewend word vir die instandhouding van infrastruktuur. Hy het gesê die hervormings is daarop gemik om openbare vertroue te herstel en te verseker dat gemeenskappe betroubare basiese dienste ontvang:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die finale hersiene raamwerk van die Witskrif oor Plaaslike Regering is daarop gemik om aanspreeklikheid, finansiële volhoubaarheid en dienslewering in munisipaliteite te versterk. Hlabisa het in Boksburg, Ekurhuleni gepraat en sê die raamwerk stel merietegebaseerde aanstellings van munisipale amptenare, bekwame leierskap en behoorlike finansiële bestuur in munisipaliteite voor. Hy het aan die SABC gesê die hersiene beleid tree op ‘n gepaste tydstip in werking, net voor die plaaslike regeringsverkiesing:
# ’n Stigterslid van Umkhonto we Sizwe en oudminister van Intelligensie, Ronnie Kasrils, het aan die Khampepe-kommissie gesê jong rekrute wat in die 1970’s en ’80’s by opleidingskampe aangekom het, wou wit Suid-Afrikaners doodmaak – aangevuur deur woede oor apartheid. Hy sê rekrute is geleer dat die stryd teen die apartheidstelsel gerig was, en nie op ras nie. Kasrils sê die opleiding het klem gelê op die Vryheidsmanifes en die ANC se nie-rassige beginsels:
# Taiwan waarsku teen moontlike verwoestende wind, swaar reën en gevaarlike kusgolwe terwyl die kragtige tifoon Champi nader aan die land beweeg. Die wind het op plekke reeds 227 kilometer per uur bereik, met meer as 200 vlugte in Taiwan en Japan wat gekanselleer is. Owerhede waarsku reënval van tot een meter is in die berge van Noord-Taiwan moontlik. Die tifoon raak ook Keen Sword, ‘n groot militêre oefening tussen die VSA en Japan, waarby nagenoeg 56-duisend personeel betrokke is. Amptenare sê opleidingskedules moet aangepas word om deelnemers teen die naderende storm te beskerm.
# Krieket: Suid-Afrika het Australië met ‘n beurt en 31 lopies in die tweede toets op St George’s Park in Gqeberha geklop. Kagiso Rabada het ses paaltjies in die wedstryd laat spat insluitend vier in die tweede beurt, terwyl Marco Jansen die laaste paaltjie laat kantel het om ‘n klinkende oorwinning vir die Proteas te verseker. Jansen het vyf paaltjies vir die verlies van 33 lopies in Australië se eerste beurt ingeoes toe hulle vir net 99 uitgehaal is. Dit maak die reeks van drie toetse gelykop met een elk na Suid-Afrika die eerste toets in Durban verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-500-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-52-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 113-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….