Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Skoolsluitings word verleng in die Kaapse Wynland- en Overbergdistrikte
# Santam ondervind ‘n toename in eise weens die gure weer in die Wes-Kaap
# En Olimpiese nuus: Suid-Afrika se beste swemmers veg dié week vir kwalifikasie
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, het aangekondig skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-onderwysdistrikte sal môre gesluit bly. Hy sê 365 skole word geraak deur die gure weerstoestande en waarskuwings. Maynier sê dit behels sowat 240-duisend leerders:
Die voorste korttermynversekeraar, Santam, beleef intussen ‘n toename in eise, met 160 wat binne 48-uur ingestroom het weens die gure weer in die Wes-Kaap. Stormsterk wind en brande het wydverspreide skade aangerig in gebiede soos Stellenbosch en Vishoek, met stormskade in verskeie dele soos die Paarl, die Strand en Muizenberg. Die maatskappy het assessore uitgestuur om die omvang van die skade te bereken. Die hoof van nie-voertuigeise, Rowland Ramalingam, raai die publiek aan om die nodige voorbereidings te tref met uiterste weerstoestande wat toeneem.
# Die Verkiesingskommissie waarsku as die Verkiesingshof beslis in die guns van die uMkhonto we Sizwe-party, kan ongekwalifiseerde mense in die Nasionale Vergadering sit. Die party daag die OVK se besluit uit om oudpresident Jacob Zuma te verbied om in die verkiesing te staan weens sy vorige skuldigbevinding aan minagting van die hof, omdat hy nie voor die staatskapingskommissie verskyn het nie. Die kommissie se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, beklemtoon minagting is ‘n misdaad:
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se beste swemmers veg dié week om kwalifisering vir die Spele in Parys tydens die nasionale kampioenskap in Gqeberha. Onder hulle is die Olimpiese gouemedaljewenners Tatjana Schoenmaker en Chad le Clos. Die 31-jarige Le Clos, wat spog met vier Olimpiese medaljes, verwag nie om die wêreld aan die brand te swem nie, maar wil sy nasionale titels verdedig. Schoenmaker, wat twee medaljes ingepalm het, het haar beste tyd ooit in die nie-Olimpiese item die 50-meter borsslag aangeteken, wat kan beteken sy is gereed vir die langer afstande.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-744-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-53-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Kenner van Kunsmatige Intelligensie wat aan die Universiteit van Cambridge studeer het, professor Tshilidzi Marwala, ontvang vandag die hoogste akademiese verering van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie. Marwala kry ‘n eredoktorsgraad in Ingenieurswese uit erkenning vir sy uitsonderlike akademiese leierskap en groot vordering in die Vierde Nywerheidsrevolusie. Marwala het 27 boeke oor kunsmatige intelligensie en verwante onderwerpe uitgegee en meer as 45 toekennings ontvang, insluitend die Orde van Mapungubwe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….