Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid stop die verkoop van ‘n plaas wat verbind word met die mislukte Statebondspele-bod
# Die DA sê die ANC moet die skuld kry vir die afleggings by die SA Poskantoor
# En, sokker: Afrigter Ellis is vol vertroue Banyana kan die Super Falcons klop in ‘n deurslaggewende Olimpiese kwalifiseerder
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het die verkoop stopgesit van ‘n plaas in Limpopo wat glo gekoop is met gunslone uit ‘n mislukte bod vir die Statebondspele. News24 berig die voormalige uitvoerende hoof van die Nasionale Loterykommissie, Phillemon Letwaba, en sy broer word aangekla van die ontvang van gunslone van organisasies wat geld van die Lotery gekry het. Letwaba het in 2022 bedank te midde van ‘n tugproses. Die ondersoekeenheid het bevind hulle het die geld gebruik om die plaas te koop. ‘n Interdik keer die verkoop daarvan, met die waarde geskat op vyf-miljoen-rand.
# Die DA sê afleggings by die Poskantoor is die gevolg van die ANC se voortgesette ernstige wanbestuur van die staatsinstelling. Naastenby vier-duisend-700 werkers het tot dusver afleggingsbriewe gekry as deel van die sakereddingsplan. Natasha Mazzone van die DA sê die Poskantoor het sedert 2014 meer as tien-miljard-rand se reddingsboeie van belastingbetalers gekry:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement herinner ouers die aanlyn aansoekvenster vir 2025 sluit volgende Vrydag. Met nog net ‘n week wat oorbly, is meer as 67-duisend aansoeke ontvang en sowat 40-duisend Graad 7-leerders moet nog aansoek doen vir Graad 8. ‘n Woordvoerder van die departement, Bronagh Hammond, moedig ouers aan om die naweek te benut om die nodige dokumente reg te kry en opskiet-hulpsentrums te besoek vir bystand:
# Sokker: Banyana Banyana speel tans in Abuja teen die Super Falcons van Nigerië om ‘n plek te verseker vir die Olimpiese Spele in Frankryk. Afrigter Desiree Ellis verwag ‘n strawwe kragmeting in hierdie eerste skof teen die sterk Nigeriese span. Suid-Afrika probeer die derde keer vir die Spele kwalifiseer terwyl Nigerië wil vergoed nadat hulle dit sedert 2008 misgeloop het. Ellis sê die span sien uit na ‘n oorwinning:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-757-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-300-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-87-sent per vat.
# Ten slotte: Die Skukuza Safari Lodge in die Krugerwildtuin is tydelik gesluit vir opknapping as deel van SANParke se kommersialisering-strategie. Tourvest Holdings en Karibu Leisure Resort is aangestel om die kamp oor die volgende tien jaar gesamentlik te bestuur. Die opknappingswerk is gemik op ‘n beter besoekers-ervaring en om die toerisme-aanbieding uit te brei in vennootskap met die privaat sektor. Die blyplek met 256 beddens sal na verwagting heropen onder bestuur van die gesamentlike onderneming.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….