Nuus 18:00
BULLETIN 5 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD arresteer vyf verdagtes, insluitend Julius Mkhwanazi, oor die moord op Emmanuel Mbense in 2022
# Die regering kyk dringend na die uitdagings van klein sakeondernemings
# En, Solidariteit daag Media24 uit oor sy beplande afleggings
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het vyf verdagtes, insluitend lede van die Ekurhuleni Metropolisiedepartement, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ‘n privaat burger, in hegtenis geneem in verband met die moord op Emmanuel Mbense in 2022. Die geskorste adjunkhoof van die EMPD, Julius Mkhwanazi, is volgens berigte een van die gearresteerdes. Lizzy Suping van OPOD sê die verdagtes staan tereg op aanklagte van moord en regsverydeling en sal na verwagting môre in die Brakpan-landdroshof verskyn:
# Die regering sê hoewel vordering gemaak word met die Spazawinkel-ondersteuningsfonds, onderdvind talle klein ondernemings steeds uitdagings wat hul verhoed om te groei. Die fonds van 500-miljoen-rand is daarop gemik om spazawinkels in plaaslike besit te help om hul bedrywighede te formaliseer, aan regulatoriese vereistes te voldoen en mededingendheid te verbeter. Woordvoerder William Baloyi sê een van die belangrikste hindernisse is vertragings met die verkryging van munisipale handelspermitte en lisensies:
# Die vakbond Solidariteit sê Media24 moet sy finansiële en strategiese planne volledig bekendmaak voordat hulle voortgaan met ‘n afleggingsproses wat tot 126 werknemers kan raak. Die vakbond hou die maatskappy se senior bestuur, eerder as die personeel, verantwoordelik vir sy operasionele uitdagings. Pieter Jordaan van Solidariteit sê dit is die vierde afleggingsproses by Media24 in drie jaar en het belowe om betrokke werknemers te ondersteun:
# Pakistan het nuwe beperkings op buitelandse media ingestel, wat vereis dat joernaliste en medewerkers wat vir internasionale nuusorganisasies werk, toestemming van die regering moet verkry voordat hulle buite Islamabad, Karachi en Lahore verslag lewer. Mediavryheidsgroepe sê die reëls sal onafhanklike beriggewing moeiliker maak en kan die dekking van groot gebeure vertraag. Die regering dring aan die maatreëls is bedoel om koördinering te verbeter en mediageloofsbriewe te verifieer. Pakistan is 153ste uit 180 lande op die Wêreldpersvryheidsindeks. Joernalisorganisasies doen ‘n beroep op owerhede om die nuwe riglyne te heroorweeg.
# Krieket: Suid-Afrika se voormalige kaptein, Graeme Smith, sê die uitbreiding van volgende jaar se Een-dag-Wêreldbeker vir mans van 10 na 14 spanne weerspieël voortgesette groei in die internasionale spel. Die toernooi keer ná 24 jaar terug na Afrika met Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië as medegashere. Smith sê die uitbreiding laat meer nasies toe om op die sport se grootste verhoog mee te ding. Hy sê die geesdrif van die drie gasheernasies, die spelers se gehalte en die ondersteuningsbasis verdien beslis ‘n wêreldgeleentheid in die spel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-445-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-236-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….