Nuus 18:00
BULLETIN 19 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bring hulde aan joernaliste wat die onderdrukking van mediavryheid trotseer het
# Minisiter Kgosientsho Ramokgopa sê Ekurhuleni kan sy afhanklikheid van Eskom verminder
# En, tennis: Elena Svitolina en Gaël Monfils se paadjies gaan skei
# President Cyril Ramaphosa sê mediavryheid moet beskerm word omdat die media ‘n onmisbare rol speel om die regering tot verantwoording te roep en tekortkominge aan die lig te bring. Hy het gepraat tydens die herdenking van Swart Woensdag- en Mediavryheidsdag in Johannesburg. Dit is vandag 49 jaar sedert die apartheidsregering in 1977 verskeie publikasies verbied en joernaliste in hegtenis geneem het. Ramaphosa sê Suid-Afrika moet waak oor mediavryheid en die publiek se reg op toegang tot inligting beskerm:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Ekurhuleni se goedgekeurde Ministeriële Bepaling oor elektrisiteitsvoorsiening kan hom help om aansienlik minder staat te maak op Eskom. Ramokgopa sê die benutting van verskeie energiebronne is noodsaaklik vir beter energiesekerheid en meer bekostigbare elektrisiteit. Hy sê die verskuiwing na hernubare energie, ondersteun deur betroubare kragopwekking, kan ook die mededingendheid van Ekurhuleni se nywerheidsektor versterk en bydra tot ekonomiese groei:
# Die Wes-Kaapse Departement van Mobiliteit het geen agterstand met die uitreik van bedryfslisensies vir openbare vervoer nie. Die Provinsiale Regulerende Entiteit neem net langer as ’n maand om aansoeke te verwerk, minder as die 60 dae deur die wet voorgeskryf. Operateurs kan aanlyn aansoek doen en per SMS op hoogte gehou word van die vordering. Voertuie word vir veiligheid nagegaan voordat lisensies uitgereik word. Woordvoerder Byron la Hoe sê dit verg voortdurende harde werk, goeie stelsels en toegewyde personeel om ’n agterstand uit te wis:
# Die Keniaanse Hooggeregshof het bevind die prediker Paul Mackenzie se Good News International Ministries het as ‘n eindtydsekte gefunksioneer. Regter Diana Kavedza-Mochache sê volgelinge is van die buitewêreld afgesonder, terwyl kinders toegang tot onderwys en mediese sorg geweier is. Sy lewer tans uitspraak in die moordverhoor van Mackenzie en 30 medebeskuldigdes oor die dood van 190 kinders en een volwassene. Aanklaers beweer volgelinge is aangemoedig om hulself uit te honger, om Jesus te ontmoet. Meer as 400 liggame is uit die Shakahola-woud herwin sedert die saak in 2023 aan die lig gekom het.
# Tennis: Een van die sport se bekendste egpare se huwelik is op die rotse. Elena Svitolina van Oekraïne het aangekondig sy gaan skei van die gewilde Fransman Gaël Monfils, wat onlangs uitgetree het. Hulle is in Julie 2021 getroud en het ‘n vierjarige dogtertjie. Die 33-jarige Svitolina, nou sesde op die wêreldranglys, sê sy moet ‘n weg na haarself terugvind en kan dit nie binne haar huwelik doen nie. Die 40-jarige Monfils was ‘n promotorskeuse vir dié week se ATP-250-toernooi in Lyon, Frankryk, maar het om persoonlike redes onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-813-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-149-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 109-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….