Nuus 18:00
BULLETIN 16 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rugby: Die Leeus-slot Hyron Andrews sterf op toer in Frankryk
# Die staat voer aan Suliman Carrim wou sonder ‘n retoerkaartjie na Dubai reis
# En, Afrika Mayibuye verwelkom die terugkeer van Fannie Masemola as nasionale kommisaris van Polisie
# Rugby: Huldeblyke deur die internasionale rugbygemeenskap stroom in, na die dood vroeër vandag van die Leeus se slot Hyron Andrews. Die Leeus toer op die oomblik in Frankryk, en het intussen bevestig dat hulle môre se Kampioenskapsbeker-wedstryd teen La Rochelle ter ere van Andrews sal speel. Andrews het hierdie seisoen by die Lions aangesluit, nadat hy vroeër vir die Haaie en Sale Sharks gespeel het. Hy laat sy vrou, Maiglin, en hul twee jong seuns agter. Die klub het versoek dat die gesin se privaatheid gerespekteer word te midde van hul groot verlies.
# Die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, het in die Landdroshof in Pretoria verskyn op ‘n aanklag dat hy versuim het om ingevolge ‘n dagvaarding voor die Madlanga-kommissie te verskyn. Hy is gisteraand op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng in hegtenis geneem voor hy op ‘n vlug na Dubai kon klim. Die staatsaanklaer voer aan hy het nie ‘n retoerkaartjie gehad nie, maar Carrim ontken dit. Die hof het gelas hy moet sy retoerkaartjie aan die hof toon:
# Die Afrika Mayibuye-beweging verwelkom die opheffing van generaal Fannie Masemola se skorsing en sy terugkeer as nasionale polisiekommissaris. Die beweging beweer vervolgingsmagte is misbruik om Masemola te teiken. Die beweging sê die besluit moet die stryd teen georganiseerde misdaad, korrupsie en geweld versterk, terwyl misdadige netwerke uitgewis word. Die beweging vra ook aanspreeklikheid vir bewese wangedrag, insluitend befondsers en politieke beskermers, en stel voor eerlike beamptes moet voldoende ondersteuning ontvang.
# Die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, Kristalina Georgieva, waarsku kunsmatige intelligensie kan groter risiko’s as voordele inhou indien daar nie voldoende beskermingsmaatreëls en ‘n etiese raamwerk is nie. Georgieva het op die Fonds en die Wêreldbank se jaarvergaderings in Bangkok gesê KI dra reeds by tot groei in die wêreldekonomie, maar kan ook skade berokken indien dit nie die verwagte voordele oplewer nie. Sy het regerings en tegnologiemaatskappye versoek om saam te werk aan beskermingsmaatreëls. Volgens Georgieva behoort lande wat KI-ontwikkeling lei, insluitend Amerika, China en Indië, die voortou te neem met die ontwikkeling van gemeenskaplike standaarde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-300-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-197-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte, dis vandag Wêreldvoedseldag, ‘n dag waarop wêreldwye bewusmaking oor honger, wanvoeding en armoede geskep en internasionale samewerking aangemoedig word om voedselsekerheid te bevorder. Ongeveer 645-miljoen mense het verlede jaar honger gely, terwyl byna 2,7-miljard mense nie ‘n gesonde dieet kan bekostig nie. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê dis noodsaaklik om te verseker elke mens in die wêreld het toegang tot veilige, voedsame en bekostigbare kos:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….