Nuus 18:00
BULLETIN 13 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Solidariteit-verslag toon ‘n kommerwekkende groei van 390% in aanlyndobbelary in Suid-Afrika
# Eskom is op soek na ’n strategiese vennoot vir die Tubatse-pompopgaarprojek
# En, Rugby: Jake White word as Fidji se nuwe hoofafrigter aangestel
# Solidariteit se Helpende Hand sê aanlyndobbelary in Suid-Afrika het tussen 2021 en verlede jaar met 390-persent gegroei, wat toenemende finansiële druk op huishoudings plaas. Die organisasie se jongste verslag toon bykans driekwart van die 1,5-duisend-miljard-rand wat in 2024/2025 in die dobbelbedryf gewed is, het aanlyn plaasgevind, en dobbeloperateurs het ná uitbetalings 75-miljard-rand in hulle sakke gesteek. Hannes Noëth van Solidariteit doen ‘n beroep op strenger beheer oor dobbeladvertensies, beter beskerming vir kwesbare mense en strenger optrede teen onwettige aanlyndobbelary:
# Eskom is op soek na ‘n strategiese vennoot om te help met die ontwikkeling van ‘n pomp-opgaarskema van 1,5 gigawatt naby Roossenekal in Limpopo. Na verwagting sal die Tubatse-projek Suid-Afrika se grootste pomp-opgaarfasiliteit word, met die vermoë om 21-gigawatt-uur elektrisiteit te stoor en vir tot 14 uur krag op te wek. Die woordvoerder van Eskom, Daphne Mokwena sê die projek sal help om elektrisiteitsvoorsiening te verbeter en die gebruik van meer wind- en sonkrag moontlik maak. Mokwena sê maatskappye wat belangstel het tot 30 November om hul aansoeke in te dien.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê ambulanse wat by noodmediese basisse geparkeer staan, beteken nie noodwendig hul is stukkend of onbenut nie. Die departement sê een van die basisse beskik oor 33 voertuie, waaronder 22 noodambulanse, vyf intensiewesorg-ambulanse en ses wat vir die vervoer van pasiënte gebruik word. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê ambulanse word gereeld ingeruil vir instandhouding, terwyl sommige ook by klinieke en ander gesondheidsgeriewe ontplooi word om pasiënte te ondersteun:
# Ethiopië het sy eerste goudraffinadery geopen as deel van ‘n gesamentlike onderneming ter waarde van 800-miljoen-rand, wat daarop gemik is om uitvoere te bevorder en meer van die waarde van sy goud in die land te behou. Die aanleg in die hoofstad, Addis Abeba, is ‘n vennootskap tussen die staatsbeheerde Ethiopian Investment Holdings en die internasionale maatskappy Sam Precious Metals. Die eerste minister Abiy Ahmed sê die raffinadery kan meer as 600 ton edelmetale per jaar verwerk, en daar word gehoop dat dit werkskepping sal stimuleer en ekonomiese groei sal ondersteun. Ethiopië het verlede jaar ongeveer 90-miljard-rand uit gouduitvoere verdien.
# Rugby: Die voormalige Springbok- en Bulle-afrigter Jake White is bevestig as Fidji se hoofafrigter wat die span van die Stille Oseaan-eiland na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië sal lei. Die 62-jarige, wat die Bokke in 2007 na Wêreldbeker-triomf gelei het, het ook spanne soos die Brumbies, die Haaie en Montpellier afgerig. Die voorsitter van Fidji se beheerliggaam, John Sanday, sê White verstaan wat nodig is om ‘n Wêreldbeker-wenspan te bou, en sy ervaring, leierskap en kampioensmentaliteit is presies waarna hulle op soek was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-438-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-169-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….