Nuus 18:00
BULLETIN 9 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SASSA reageer oor toelaes wat aan ontvangers uitbetaal is wat nie kwalifiseer nie
# Die Wes-Kaapse regering wil sterker, meer verantwoordbare munisipaliteite hê
# En, motorsport: George Russell is die vinnigste in die Singapoer Grand Prix-oefensessie te midde van rookmis
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sê hy het kontroles verskerp om bedrog te voorkom en te verseker maatskaplike toelaes gaan aan mense wat daarvoor kwalifiseer. Dit volg op mediaberigte dat betalings gedoen is aan begunstigdes wat na bewering nie vir toelaes in die 2025/2026 boekjaar in aanmerking gekom het nie. Andile Tshona van die agentskap sê hersienings en sertifiserings is nie gemik om wettige begunstigdes uit te sluit nie, maar om te bevestig dat ontvangers steeds kwalifiseer en nog lewe:
# Die Stad Tshwane se Departement van Menslike Nedersettings het ‘n dringende waarskuwing aan inwoners van Mamelodi Uitbreiding Ses en omliggende gebiede uitgereik oor ʼn bedrieglike behuisingsvraelys-slenter. Swendelaars doen hulle voor as verteenwoordigers van die stad en gaan rond met ʼn bedrieglike dokument, Housing Beneficiary Investigation Questionnaire. Die departement se woordvoerder, Doreen Mokgolo, het bevestig dat die munisipaliteit nie so ʼn opname of ondersoek doen nie:
# Die Wes-Kaapse regering sê nuwe riglyne is ingestel om munisipaliteite te help om dienste te handhaaf tydens politieke onbestendigheid in koalisie-regerings. Die riglyne is ontwikkel in samewerking met die Dullah Omar-instituut, die Hanns Seidel-stigting en kenners van plaaslike regering. Die riglyne is om munisipale administrasies te versterk, bestuur te verbeter en te verseker amptenare gaan voort om gemeenskappe te dien, ongeag politieke veranderings. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê veranderings in politieke leierskap mag nie noodsaaklike dienste ontwrig nie.
# Motorsport: Die Mercedes-renjaer George Russell was die vinnigste in die enigste oefensessie vir die Singapoer Grand Prix met ‘n tyd van een-minuut-32,274-sekondes. Charles Leclerc van Ferrari was tweede, met Lando Norris van McLaren in die derde plek op ‘n stowwerige baan te midde van rook weens brande in Indonesië. Die snelren-formaat beteken spanne het net een oefensessie voor kwalifisering. Russell se goeie vertoning is egter oorskadu deur ‘n kragbron-straf, wat beteken hy sal Sondag se Grand Prix heel agter begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-155-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-185-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte, die Kanadese sangeres Celine Dion het vinnig herstel nadat sy tydens haar konsert in Parys op die verhoog geval het. Die 58-jarige het Woensdag by die Plenitude Arena opgetree toe sy blykbaar met haar hak in die soom van haar broek getrap en geval het. Sy het dadelik opgestaan, dadelik met ’n duim omhoog vir die gehoor gewys alles is reg en voortgegaan om te sing. Die konsert is deel van haar eerste uitgebreide reeks lewendige optredes in ses jaar, ná haar diagnose van ’n seldsame neurologiese afwyking wat erge spierstyfheid en pynlike spierspasmas veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….