Nuus 18:00
BULLETIN 22 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Finansies is tjoepstil oor belastingverhogings vir die Nasionale Gesondheidsversekering terwyl wydverspreide kritiek toeneem
# Eskom stel fase 2-beurtkrag in weens verlies aan eenhede
# En, daar is gemengde reaksie op die Franse president se boks-vaardighede
# Die DA het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gekritiseer omdat hy stilbly oor moontlike belastingverhogings om die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering te befonds. Hul beweer daar is geen huidige plan om die NGV te befonds nie en kommer bestaan oor die bekostigbaarheid daarvan. Die party voer aan die NGV is ‘n politieke slenter en nie ‘n ware gesondheidsorgoplossing nie. Die DA-lid, Dion George, stel ‘n alternatiewe model voor wat regeringshervorming en samewerking met die privaat sektor beklemtoon vir volhoubare toegang tot gesondheidsorg sonder belastingverhogings:
# Die leier van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, het die party se verbintenis tot vrede en bestendigheid herbevestig namate die verkiesing nader. Hy sê die versekering van ‘n vrye en regverdige verkiesing is uiters belangrik en dui op ‘n sterk begeerte vir bestendigheid ná die verkiesingstydperk. Hy het bewerings verwerp van geweld teen ANC-ondersteuners by die 110de herdenking van koning Dinuzulu ka Cetshwayo oor die naweek in KwaZulu-Natal. Hlabisa waarsku teen lukrake beskuldigings in hierdie polities-sensitiewe tydperk:
# Eskom het fase twee-beurtkrag ingestel van vanmiddag 4-uur tot 8-uur vanaand, gevolg deur fase drie tot môreoggend om vyf. Die kragreus moet noodreserwes aanvul en het drie opwekkingseenhede verloor. Fase twee-beurtkrag sal dan hervat word tot môreaand 8-uur, gevolg deur fase drie tot Sondagoggend 5-uur. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê onbeplande onderbrekings beloop altesaam 15-duisend-409 megawatt, met meer as ses-duisend megawatt wat beplande instandhouding ondergaan:
# Sokker: Noord-Korea het hom onttrek aan volgende week se Wêreldbeker-kwalifiseerder teen Japan in Pyongyang, en sê dis weens kommer oor aansteeklike siektes in Japan. Noord-Korea wil hê die wedstryd moet na ‘n neutrale bestemming verskuif word. Reuters berig die Asiatiese beheerliggaam, AFC, het die wedstryd gekanselleer en na Fifa se relevante komitees verwys. Japan het dié week se eerste kwalifiseerder teen Noord-Korea in Tokio 1-nul gewen. Sirië en Mianmar is die ander lande in Groep B vir 2026 se Wêreldbekertoernooi. Noord-Korea was in 2019 laas gasheer vir ‘n internasionale wedstryd vir mans.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-98-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-60-sent per vat.
# En, laastens: Foto’s van die Franse president, Emmanuel Macron, wat ‘n slaansak bykom, het die Franse vermaak, verstom én op sommige plekke selfs konsternasie veroorsaak. Die swart-en-wit foto’s op Instagram wys hoe hy oefen in ‘n styfpassende donker T-hemp en bokshandskoene. Op een foto kners hy op sy tande en in ‘n ander is hy die ene konsentrasie. Kommentators vergelyk hom met die Russiese president, Vladimir Putin, en foto’s van hom waar hy judo doen en perdry. Ander meen die foto’s toon Macron se toenemend kritiese houding teenoor Moskou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….