Nuus 18:00
BULLETIN 8 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ronald Lamola ondersteun strenger optrede teen diegene wat waninligting oor Suid-Afrika in die buiteland versprei
# Die adjunkpresident Paul Mashatile het volkome herstel en is terug by werk
# En, sokker: afrigter Miguel Cardoso sal nie beseerde Sundowns-spelers in MTN8-eindstryd laat speel nie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, ondersteun oproepe vir optrede teen individue en organisasies wat daarvan beskuldig word dat hulle waninligting oor Suid-Afrika in die buiteland versprei. Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee, Supra Mahumapelo, het wetgewing voorgestel wat dit moontlik maak dat mense van hul Suid-Afrikaanse burgerskap gestroop kan word. Lamola sê die reg op vryheid van spraak strek nie tot die verspreiding van leuens en waninligting nie. Die DA-lid, Ryan Smith, waarsku egter sulke wetgewing kan inbreuk maak op vryheid van uitdrukking.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het sy amptelike pligte hervat nadat hy ‘n geringe mediese prosedure ondergaan en volkome herstel het. Hy het aan die begin van die week teruggekeer werk toe. Sy waarnemende woordvoerder, Keith Khoza, sê Mashatile sal na verwagting kabinetskomiteevergaderings lei, die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring bywoon, met geloofsgemeenskappe in gesprek tree, mondelinge vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord en sy politieke bedrywighede hervat:
# Die Stad Kaapstad het ‘n gespesialiseerde taktiese-eenheid van stapel gestuur om vinnig te reageer op ernstige en hoërisiko-misdaad. Die eenheid sal voorvalle soos bendegeweld, afpersing en massaskietery hanteer. Dit is toegerus met ‘n gepantserde voertuig, nagsig- en hitte-opsporingstegnologie, sowel as gespesialiseerde vuurwapens en taktiese toerusting. Die burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die eenheid sal gemeenskappe ondersteun wanneer konvensionele polisiëringshulpbronne onder druk is:
# Die Koreaanse popgroep ENHYPEN en hul aanhangers ondersteun ‘n wêreldwye bloedskenk-veldtog in samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisasie. Die groep het by die WGO se Wêreld-bloedskenkdag-veldtog aangesluit om mense aan te moedig om bloed te skenk en lewens te help red. Lede van ENHYPEN het ook bloed geskenk. Die aanlyn belofte-veldtog het sterk gegroei nadat promosievideo’s deur die groep vrygestel is. Deelname het van een-duisend-200 tot agt-duisend-300 toegeneem, met baie van die deelnemers vanuit die groep se aanhangersgemeenskap, ENGENE.
# Sokker: Die Mamelodi Sundowns-afrigter Miguel Cardoso sê hy sal nie beseerde spelers soos Teboho Mokoena, Aubrey Modiba en Bathusi Aubaas in Saterdag se MTN8-eindstryd teen Orlando Pirates in die Moses Mabhida-stadion te laat speel nie. Bafana Bafana se internasionale spelers herstel van beserings wat hulle tydens nasionale diens opgedoen het. Cardoso sê spelers sal slegs speel as hulle heeltemal fiks is, met mediese evaluerings wat voor die eindstryd sal plaasvind:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-75-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….