Nuus 18:00
BULLETIN 20 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor beboet Markus Jooste met 475-miljoen-rand
# Beurtkrag word opgeskort namate aanvraag daal en opwekkingsvermoë toeneem
# En rugby: Die eerste SA Beker-toernooi skop môre die plaaslike provinsiale seisoen af
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, ‘n boete van 475-miljoen-rand opgelê weens bedrog met finansiële state. Die owerheid se kommissaris, Unathi Kamlana, sê Jooste en die finansiële hoof, Dirk Schreiber, het ware finansiële inligting verberg en beleggers mislei. Benewens die boete, moet Jooste binne 30 dae ook 10-miljoen-rand opdok aan ondersoekkoste.
# President Cyril Ramaphosa het swart nyweraars geloof omdat hulle uitdagings oorbrug en aansienlik bydra tot die nasie se ekonomiese groei. Die president het hulle op die Konferensie vir Swart Nyweraars in Sandton, Johannesburg, geloof vir hul harde werk, veerkragtigheid en vernuwing, en hul rol as agente vir verandering in maatskaplike en ekonomiese hervorming in gemeenskappe beklemtoon. Ramaphosa het hul uitnemendheid in verskeie sektore uitgelig om Afrika se onbenutte potensiaal en vernuf ten toon te stel:
# COPE sê die voorbereiding van sy verkiesingsmanifes vir die komende nasionale en provinsiale verkiesing, vorder goed. Die party se leier, Mosiuoa Lekota, sal Saterdag die manifes in die Suurman-gemeenskapsaal in Hammanskraal, Tshwane, bekendstel. COPE se waarnemende sekretaris-generaal, Erick Mohlapamaswi, sê die manifes sal gesentreer wees rondom talle uitdagings waarmee die land worstel weens meer as 15-jaar van wanbestuur en swak leierskap:
# Eskom gaan beurtkrag môreoggend vyfuur opskort tot verdere kennisgewing. Dit is te danke aan ‘n laer vraag wat oor die naweek verwag word, en ‘n toename in beskikbare opwekkingsvermoë. Eskom beplan om teen Maandagaand weer drie-duisend-850 megawatt-opwekkingsvermoë aanlyn te hê. Enige beduidende veranderings sal deurgegee word.
# Rugby: Die eerste SA Beker-toernooi begin môre met ‘n opwindende kragmeting tussen die Griekwas en die Luiperds in Kimberley. Vrydag sal verlede jaar se Curriebeker-Premier- en Eersteliga-kampioene, die Cheetahs en die Boland-Kavaliers, in Bloemfontein kragte meet. Tien provinsiale spanne neem deel aan die nuwe kompetisie, behalwe dié met ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-span. Hulle gaan oor ‘n tydperk van nege agtereenvolgende weke teen mekaar meeding in altesaam 46 wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-77-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-159-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….