Nuus 18:00
BULLETIN 19 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement bevestig ‘n deursoekings- en beslagleggingsoperasie by speaker Mapisa-Nqakula se huis
# Marmite se vervaardigers beplan om wêreldwyd sewe-duisend-500 poste te sny
# En, netbal: Planne word beraam om die Proteas se posisie op die wêreldranglys te verbeter
# Die Parlement het bevestig die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat het ‘n deursoekings- en beslagleggingsoperasie uitgevoer by die huis van die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, in Johannesburg. Die ondersoek hou verband met beweerde korrupsie toe sy die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, hou vol sy is onskuldig en sê sy het ten volle saamgewerk met die soektog. Hy sê Mapisa-Nqakula bly toegewy aan dienslewering met integriteit:
# Die uMkhonto we Sizwe-party sê die besluit van die adjunkhoofverkiesingsbeampte, Mawethu Mosery, om die party te registreer is nie onderhewig aan hersiening deur die Kieshof nie. Die ANC het ‘n saak ingedien by die hof in Bloemfontein om die MK-party se registrasie ongeldig te verklaar. Die MK-party se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, beskuldig die ANC van ‘n poging om die Verkiesingswet se meganismes oor besware, appelle en hersienings te omseil:
# Kleinhandelaars se vertroue het in die eerste kwartaal afgeneem ondanks groter verkoopsvolumes. Dit word toegeskryf aan verbruikers se huiwering om voor die verkiesing duur items te koop. Die Buro vir Ekonomiese Navorsing se jongste peiling onthul kleinhandelaars se vertrouensvlakke het tot 34 punte gedaal, met winsgewendheid wat laag bly. Kleinhandelaars in nie-duursame goedere het egter verbeterde volumegroei beleef, met verkoopvolumes vir tekstiel, klere en skoen-kleinhandelaars wat verder versnel het. Die vooruitsig dui op ‘n moontlike herlewing in kleinhandel vanaf die derde kwartaal, afhangend van politieke en ekonomiese bestendigheid na die verkiesing.
# Marmite se vervaardigers, Unilever, het planne aangekondig om sewe-duisend-500 poste regoor die wêreld te sny. Die verbruikersgoedere-firma, gebaseer in die Verenigde Koninkryk, vervaardig ook handelsmerke soos Domestos. Daar is ongeveer 128-duisend werknemers en die firma sê die voorgestelde besnoeiings sal hoofsaaklik onder kantoorwerkers wees, soos tegnologie vorder. Sky News berig Unilever het ook aangekondig hy beplan om sy roomys-onderneming, insluitend Magnum en Cornetto, teen volgende jaar te verdeel. Hy verwag sy produktiwiteits-program sal oor die volgende drie jaar kostebesparings van sowat 16,5-miljard-rand lewer.
# Netbal: Suid-Afrika is weer vyfde op die ranglys van Wêreldnetbal, na Australië, Nieu-Seeland, Engeland en Jamaika. Die Proteas is sedert 2015 in dié posisie en dit lyk of dit baie moeilik is om deur te breek na die top-vier. Die nuwe hoofafrigter, Jenny van Dyk, sê hulle maak planne om die span se posisie te verbeter:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-862-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-152-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….