Nuus 18:00
BULLETIN 18 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu wag op ‘n kans om sy saak te stel te midde van korrupsie-aantygings
# Die ANC verwerp buitelandse steunwerwing van ‘n DA-LP te midde van die tariefspanning met Amerika
# En die DA sê gevangenisse is nie meer veilig nie, maar ‘n spilpunt vir misdaadsindikate
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê hy wag om sy kant van sake te stel voor die kommissie van ondersoek. President Cyril Ramaphosa het hom op spesiale verlof geplaas weens die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se aantygings van korrupsie teen hom. Mchunu het in Empangeni aan SABC News gesê geregtigheid kan nie geskied as een persoon as aanklaer, ondersoeker, regter en jurie optree nie. Hy sê die waarheid sal eers ten volle uitkom wanneer alle kante gehoor word:
# Die ANC beskuldig ‘n parlementslid van die DA, Emma Louise Powell, dat sy ‘n waninligtings-veldtog lei wat beoog om Suid-Afrika se reputasie te skaad te midde van nuwe Amerikaanse tariewe. Volgens die party het Powell Amerikaanse amptenare beïnvloed en vals bewerings soos wit volksmoord en gedwonge grondonteiening aangevoer om Amerikaanse beleid teen Suid-Afrika te beïnvloed. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu het ook vir Powell beskuldig dat sy die presidensiële gesant, die gewese adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, in ‘n smeerveltog geteiken het.
# Die DA sê sonder dringende hervorming sal Suid-Afrika se gevangenisse spilpunte van bendegeweld en georganiseerde misdaadsindikate bly. Dit volg ná ‘n onlangse klopjag in die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad waar wapens, dwelms, selfone, kontant en ander smokkelware ontdek is. Die DA-lid Nicholas Gotsell sê die omvang van misdadige bedrywighede agter tralies bewys bendes tree vrylik op weens die swak toesig:
Nuus uit die buiteland:
# Rusland het die uitwerking van nuwe sankies deur die Europese Unie as onbeduidend afgemaak en sê dis onwettig en sal boemerang. Die EU het ooreengekom op die 18de sankiespakket weens Rusland se volgehoue militêre aanslag teen Oekraïne. Dit teiken Russiese banke en die verlaging van die prysgaping op olie-uitvoere. Rusland het grootliks die Weste se pogings weerlê om sy ekonomie met sanksies lam te lê. Russiese beamptes het die beperkings veroordeel as ‘n verbreking van internasionale wet en Moskou se doeltreffendheid geprys om dit te omseil.
# Rugby: Skotland het Samoa in Auckland, Nieu-Seeland, 41-12 verpletter om hulle Stille Oseaan-toer op ’n hoogtepunt af te sluit na verlede naweek se teleurstellende nederlaag teen Fidji. Die Skotte het binne die eerste 15-minute twee drieë gedruk en uiteindelik sewe drieë teen twee aangeteken. Hulle moes klaarkom sonder ‘n aantal eerstekeuse-spelers wat vir die Britse en Ierse Leeus speel terwyl Tom Jordan en Jamie Ritchie beseer is in die wedstryd teen Fidji. Skotland het ook die Maori-All Blacks verslaan in die eerste wedstryd van die toer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-257-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….