Nuus 18:00
BULLETIN 5 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beursies is onder druk met die brandstofprysverhoging wat Woensdag in werking tree
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie onttrek die saak teen die voormalige Polisie-kommissaris Khomotso Phahlane
# En, Motorsport: F1 ondersoek die sagtewareprobleem wat die wegspring van die Bahreinse Grand Prix vertraag het
# Wêreldwye spanning oor olievoorrade sal Woensdag skerp brandstofprysverhogings in Suid-Afrika teweeg bring. Die prys van petrol styg met tussen drie-rand-12-sent en drie-rand-33-sent per liter; diesel is tussen twee-rand-84-sent en drie-rand-24-sent per liter duurder terwyl die prys van lampolie met vier-rand-77-sent-sent per liter styg. Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne se woordvoerder, Lerato Ntsoko, sê die verhogings hou verband met hoër ruoliepryse, kommer oor verskaffing en onsekerheid oor olieverskepings deur die Seestraat van Hormoes:
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het die korrupsiesaak teen die voormalige waarnemende polisiekommissaris Khomotso Phahlane en sy medebeskuldigdes voorlopig teruggetrek. Die saak hou verband met ‘n polisie-kontrak in 2016 van meer as 191-miljoen-rand vir noodwaarskuwingstoerusting, waar 65-miljoen-rand aan die diensverskaffer betaal is. Die woordvoerder van die ODK, Henry Mamothame, sê die beskuldigdes staan tereg op verskeie aanklagte insluitend korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die dringende aansoek van sakeman Morgan Maumela en die Maumela-familietrust van die hand gewys om die verkoop van ‘n Ferrari SF90 Stradale, ter waarde van minstens 9,5-miljoen-rand te keer. Die voertuig is as deel van ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na beweerde korrupsie by die Tembisa-hospitaal in bewaring geplaas. Die woordvoerder van die SOE, Selby Makgotho het aan Newzroom Afrika gesê die aansoekers kon nie ’n duidelike regsaanspraak aantoon nie. Die opbrengs sal in bewaring bly hangende die saak:
# Die National Shelter Movement beskuldig die regering dat hy misluk om geslagsgeweld te voorkom, en sê owerhede reageer steeds eers na vroue leed aangedoen is. Die organisasie, wat ongeveer 100 skuilings verteenwoordig, sê president Cyril Ramaphosa se toespraak verlede week bied oudits en beloftes aan eerder as dringende optrede. Die beweging kritiseer ook die borgtog toegestaan aan die sakeman Lawrence Mudzinganyama, wat beskuldig word van die afdreig van vroue. Hulle is ook gekant teen borgtog vir die geskorste adjunk-polisiekommissaris Shadrack Sibiya, wat aanklagte van verkragting en mensehandel in die gesig staar.
# Motorsport: Die beheerliggaam van Formule Een het opdrag gegee vir ‘n volledige ondersoek na ‘n sagtewareprobleem wat die wegspring van gister se Bahrein-Grand Prix in Maleisië vertraag het. Die FIA sê ‘n ongekende kombinasie van lae enjinspoed, swak padgreep, instellings vir energiebestuur in nat weer, en die sektor-uitleg van die Sepang-renbaan het daartoe gelei dat verskeie motors onverwags krag verloor het. Die beheerliggaam, die verskillende spanne en die enjinvervaardigers sal die omstandighede deeglik ondersoek. Die Nederlander, Max Verstappen van Red Bull, het uiteindelik die wedren gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-490-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-140-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….