Nuus 18:00
BULLETIN 14 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se internet-netwerk word getref deur ondersese-kabelprobleme
# Nog ‘n groep EFF-LP’s word skuldig bevind aan minagting van die Parlement
# En nuus van die Olimpiese Spele: Parys se burgemeester sê Russiese atlete is nie welkom nie
# Suid-Afrika ondervind wydverspreide internetontwrigting weens ondersese kabels wat op talle plekke gebreek het, met al hoe meer verslae van gebruikers, soos FNB, LinkedIn en WhatsApp. Microsoft ondersoek die onderbreking van dienste in Europa, die Midde-Ooste en die Afrika-streek, met veral gebruikers in Suid-Afrika, Kenia en die Verenigde Koninkryk wat geraak word. Daar is nog nie sekerheid oor waar presies die kabels gebreek het nie, maar dit kan moontlik naby die Ivoorkus in Wes-Afrika wees. Vodacom se woordvoerder, Byron Kennedy het die uitwerking op netwerkverskaffers bevestig:
# Nege EFF-Parlementslede is skuldig bevind aan minagting van die Parlement omdat hulle president Cyril Ramaphosa ‘n geldwasser genoem en geweier het om die opmerkings terug te trek tydens die begrotingsrede in Junie 2022. Dit is die derde groep lede van dié party wat die afgelope paar maande skuldig bevind is deur die komitee oor Magte en Voorregte. Die komitee het sy verhore afgesluit oor die ontwrigting na ‘n vertraging in Januarie. Die saak sal nou na die Nasionale Vergadering verwys word vir optrede.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet het ‘n vorderingsverslag ontvang oor die leefstyl-oudits van senior bestuurslede. Teen die einde van Januarie verlede jaar het 24 nasionale departemente en 71 provinsiale departemente die oudits voltooi. Sy sê na bykomende ingrepe het die aantal departemente wat voldoen, toegeneem tot 36 nasionaal en 89 provinsiaal teen die einde van Maart verlede jaar:
# Die vonnisoplegging van die Suid-Afrikaanse dokter Lauren Dickason, wat skuldig bevind is aan die moord op haar drie dogters in Nieu-Seeland, is uitgestel tot 26 Junie. Die Australiese nuusdiens, The Press, berig sielkundige beoordelings sal bepaal of sy aangehou moet word in ‘n geestesgesondheidsinrigting of ‘n tronk. Intussen vind ‘n konferensie van kenners volgende Vrydag plaas, in plaas van die vonnis, soos voorheen geskeduleer is. Dickason is in die Hillmorton-hospitaal, met nog evaluerings wat wag oor die aard en duur van haar vonnis.
# Olimpiese Spele: Die burgemeester van die gasheerstad, Parys, wil hê Russiese atlete moet verbied word om aan die Spele deel te neem, terwyl Israeliese atlete ten volle verwelkom moet word. Anne Hidalgo sê sy sal verkies as die Russe nie na haar stad toe kom nie. Die Internasionale Olimpiese Komitee sal binnekort besluit of Russiese en Belarussiese atlete toegelaat sal word om aan die openingseremonie deel te neem. Hidalgo sê hulle kan nie optree asof Rusland se inval in Oekraïne nie bestaan het nie, terwyl die situasie in Gaza geen vergelyking is nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-581-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-161-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….