Nuus 18:00
BULLETIN 1 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vakbond Solidariteit waarsku munisipaliteite en staatsondernemings teen rasgebaseerde tenders
# GIWUSA is bekommerd oor die verwagte rekordhoë brandstofpryse vir Oktober
# En, rugby: ‘n uitdagende naweek wag vir Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die vakbond Solidariteit het verskeie staatsinstellings en munisipaliteite gewaarsku om nie bepalings van die Wet op Openbare Verkryging, wat tans ongeldig is, in tenderprosesse te gebruik nie. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof gelas het die wet is onregmatig verorden. Theuns du Buisson van Solidariteit sê ras-, geslags- of gestremdheidsvereistes wat verbind word met die ongeldige wet, moenie gebruik word om ondernemings uit te sluit van tenderprosesse nie. Hy sê belastingbetalers se geld moet aangewend word om gehalte-dienslewering en waarde vir geld te verseker:
# KPMG se hoofekonoom, Frank Blackmore, sê veranderings in die wêreldekonomie kan nuwe geleenthede in Afrika skep. Hy sê die groeiende vraag na kunsmatige intelligensie, hernubare energie en elektriese voertuie verhoog die behoefte aan Afrika se minerale en energiehulpbronne. Hy sê Afrikalande benodig beter infrastruktuur, betroubare elektrisiteitsvoorsiening, meer vaardighede en verwerkingsaanlegte om nog beleggings te lok. Blackmore sê ook bekostigbare en betroubare elektrisiteit is belangrik om datasentrums en tegnologie-ondernemings te lok.
# Die vakbond GIWUSA waarsku dat nog stygings in brandstofpryse die druk op sukkelende huishoudings verder sal laat toeneem. Volgens data van die Sentrale Energiefonds gaan Suid-Afrika volgende week die hoogste petrolprys ooit betaal met die onderverhaling wat pryse tot bo 30-rand per liter gaan opstoot. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, pak die skuld op stygende oliepryse wêreldwyd, ‘n wisselvallige rand en plaaslike brandstofheffings:
# Bangladesj waarsku die knokkelkoors-uitbreking kan vererger nadat September die dodelikste maand vanjaar was. Minstens 148 mense is verlede maand dood, wat die dodetal vanjaar op 245 te staan bring. Byna 80-duisend pasiënte is reeds in hospitale opgeneem. Kenners sê onlangse reënval en veranderende weerstoestande kan die verspreiding van die siekte, wat deur muskiete versprei word, deurOktober verleng en vanaf groot stede uitbrei na landelike gebiede. Die uitbreking plaas ook verdere druk op hospitale wat reeds ‘n landwye maselsuitbreking probeer hanteer waarin meer as een-duisend-100 kinders dood is.
# Rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap wil voortbou op hul goeie begin van die seisoen. Die Stormers, die Bulle, die Leeus en die Haaie het almal oorwinnings behaal in die eerste ronde, maar ‘n uitdagende naweek lê voor. Die Stormers speel in Skotland teen Edinburgh, die Leeus in Johannesburg teen Ospreys, die Haaie in Durban teen die verdedigende kampioen, Leinster, en die Bulle in Ierland teen Munster. Die Bulle, die Haaie en die Stormers is boaan die punteleer, met die Leeus in die sewende plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-893-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-166-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….