Nuus 18:00
BULLETIN 30 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Jeugwerkloosheidsbeweging is bekommerd oor die veertien-duisend werkverliese in die tweede kwartaal
# Build One South Africa sê Kaapstad-gemeenskappe het beskerming nodig, nie beloftes nie
# En, tennis: die tweede-gekeurde manspeler word uitgeskakel in eerste ronde van Chinese Ope
# Die Nasionale Jeugwerkloosheidsbeweging is bekommerd oor kwartaallikse werkstatistiek wat toon dat die aantal werkende mense gedaal het van 10,43 miljoen in Maart tot 10,42 miljoen in Junie, ‘n afname van 14-duisend. Woordvoerder Lindokuhle Yende sê elke verlore werksgeleentheid raak inkomste en voortbestaan. Hy is bekommerd dat jongmense struikelblokke ondervind soos beperkte ervaring en ‘n moeilike oorgang van skool na werk. Yende vra die regering om te fokus op werkverskaffing en vaardigheidsontwikkeling:
# Build One South Africa sê inwoners van Kaapstad moet beskerm word voor nog ‘n massaskietvoorval plaasvind. Dit volg na die dood van 16 mense in drie afsonderlike skietvoorvalle oor die naweek in Lwandle, Khayelitsha en Joe Slovopark. Roger Solomons van BOSA doen ‘n beroep op sterker sigbare polisiëring en meer hulpbronne vir die polisie, insluitend optrede teen onwettige vuurwapens. Solomons sê die owerhede moet daarop fokus om geweldsmisdade te voorkom, in plaas van om eers op te tree as mense reeds dood is.
# Iran se Revolusionêre Wag het Amerikaanse kiesers aangemoedig om president Donald Trump se bondgenote in die Kongres te verwerp, terwyl die laaste Amerikaanse magte Irak na meer as twintig jaar verlaat. Die Wag het Amerikaners in ‘n brief gevra om hul land se steun vir Israel en militêre ingryping in die buiteland teen te staan. Teheran het die onttrekking uit Irak as ‘n oorwinning gevier. Intussen tree Katar op as bemiddelaar tussen Iran en Amerika in ‘n poging om ‘n einde te bring aan hul konflik van sewe maande.
# Tennis: Die tweede-gekeurde Kanadees, Felix Auger-Aliassime, se Chinese Ope is vinnig beëindig toe hy in die eerste ronde in Beijing uitgeskakel is. Hy het binne ‘n uur en 11 minute in skoon stelle verloor teen die ongekeurde Rus Karen Khachanov, wat hom vroeër die maand ook in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope geklop het. Die topgekeurde Duitser, Alexander Zverev, speel eerste teen die Brit Cameron Norrie. Die twee topspelers onder die vroue, Elena Rybakina van Kazakstan en Aryna Sabalenka van Belarus, speel Vrydag hulle eerste wedstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-427-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-10-sent per vat.
# En laastens, die 2026 Eskom-ekspo vir Jong Wetenskaplikes se Internasionale Wetenskapskou is tans in Boksburg aan die gang. Meer as 300 Suid-Afrikaanse leerders en 24 internasionale deelnemers uit 11 lande bied oplossings aan vir werklike uitdagings met robotika, ingenieurswese en datawetenskap. Leerders kan universiteitsbeurse wen en deelneem aan internasionale wetenskaptentoonstellings. Eskom se Expo-direkteur, Parthy Chetty, het aan die SABC gesê die program ontwikkel toekomstige wetenskaplikes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….