Nuus 18:00
BULLETIN 12 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johannesburg se burgemeester vergader vanaand met wyksraadslede oor die wateronderbreking wat reeds tien dae duur
# Krieket: Pant is terug as kaptein van Delhi Capitals in die IPL ná ‘n motorongeluk
# En, ‘n 91-jarige man is vasbeslote om volgende jaar aan sy 17de Kaapstadse Fietstoer deel te neem
# Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, sal vanaand met wyksraadslede vergader om die wateronderbreking te bespreek wat reeds tien dae duur. Meer as 20 voorstede worstel met wateronderbrekings. Volgens Johannesburg Water is sommige reservoirs herstel, maar uitdagings duur voort weens verhoogde aanvraag wat deur die hitte vererger word. News24 berig inwoners van Blairgowrie is sonder water sedert ‘n donderstorm op 3 Maart. Hulle beplan ‘n betoging oor swak kommunikasie en die gebrek aan optrede. Inwoners eis ‘n volhoubare oplossing buiten watertenkwaens.
# President Cyril Ramaphosa het tydens die Suid-Afrika-Ghana bi-nasionale kommissie in Pretoria gevra vir uitgebreide bilaterale handel en belegging tussen die twee lande. Hy sê Suid-Afrika is gretig om invoer-uitvoer-verhoudinge voort te sit en sê Suid-Afrikaanse maatskappye stel belang om beleggings in Ghana uit te brei. Ramaphosa het ook samewerking tussen die infrastruktuur- en pre-chemiese sektore verwelkom. Hy sê dis belangrik om die afname in handel die afgelope vier jaar om te keer en handelsbetrekkinge op ‘n ekonomiese en beleggingsvlak te bevorder:
# Die vakbondfederasie Saftu het die Amerikaanse president, Joe Biden, beskuldig dat hy probeer om sy reputasie te red oor sy standpunt rakende Palestina. Die federasie beweer Biden se optrede is daarop gemik om die Amerikaanse regering se beeld te red. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê Biden se uitsprake is daarop gefokus om Israel te verhoed om sy geldigheid wêreldwyd uit te put. Hy sê Biden skep steeds ruimte vir verdere Palestynse sterftes:
# Krieket: Die Indiese paaltjiewagter Rishabh Pant sal ná ‘n afwesigheid van 14 maande sy terugkeer maak wanneer die Indiese Premiersliga dié maand begin. Hy is in Desember 2022 ernstig beseer in ‘n motorongeluk, en kon sedertdien nie speel nie. Pant sal die Delhi Capitals aanvoer in die IPL wat volgende Vrydag begin. Indië se beheerliggaam sê hy is fiks verklaar na omvattende rehabilitasie en herstel, insluitend ‘n operasie om ‘n ligament in sy regterknie te herbou. Hy het reeds 33 toetse, 30 eendagwedstryde en 66 T20’s vir Indië gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-157-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-161-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-50-sent per vat.
# En, laastens: Die 91-jarige Stewart Banner sê hy is vasbeslote om volgende jaar aan sy 17de Kaapstadse Fietstoer deel te neem. Hy het Sondag lelik geval in vanjaar se wedren by Misty Cliffs. Stewart het egter mediese behandeling gekry en ná ‘n onderbreking van 50 minute voortgegaan en die wedren voltooi. Sy seun, Iain, sê dis ʼn wonderwerk dat sy pa kon klaarmaak terwyl hy vol pleisters is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….