Nuus 18:00
BULLETIN 29 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema word verlof toegestaan om te appelleer teen sy tronkstraf van vyf jaar
# Lukhona Mnguni van RISE Mzansi waarsku teen druk op Suid-Afrika se staatsbestuur
# En, vanaand se PowerBall-boerpotte beloop altesaam 101-miljoen-rand
# Die EFF-leier Julius Malema is verlof toegestaan om te appelleer teen sy skuldigbevindings in verband met vuurwapenmisdrywe en sy tronkstraf van vyf jaar. Die Hooggeregshof in Makhanda, Oos-Kaap, het beslis daar is voldoende gronde vir die appèl, wat deur ‘n volle regbank aangehoor sal word. Malema is skuldig bevind nadat hy tydens die EFF se vyfde herdenkingsvieringe in Mdantsane in 2018 ‘n geweer afgevuur het. Hy is in April tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, maar het nog nie begin om die vonnis uit te dien nie terwyl die appèlproses voortduur.
# RISE Mzansi se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Lukhona Mnguni, sê Suid-Afrika se toekoms word bedreig deur toenemende spanning tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke. Mnguni het op ‘n geleentheid by Unisa gesê die land benodig ‘n eerlike heronderhandeling van sy maatskaplike kontrak. Hy is bekommerd oor oproepe om die Grondwet te wysig en die doodstraf weer in te stel en sê navorsing toon dit stuit nie noodwendig geweld nie. Mnguni vra sterker samewerking tussen die verskillende regeringsvlakke en bevraagteken of die provinsiale regering steeds doeltreffend is:
# Suid-Korea sê Noord-Koreaanse landmyne het verlede week se ontploffing in die neutrale sone veroorsaak waarin drie Suid-Koreaanse soldate beseer is. Die minister van Verdediging, Kang Shin-chul, sê dit was ‘n duidelike skending van die wapenstilstand wat die Koreaanse Oorlog beëindig het. ‘n Gesamentlike ondersoek deur Suid-Korea en die Verenigde Nasies se bevelsgroep het nog ‘n Noord-Koreaanse landmyn gevind. President Lee Jae Myung probeer om die Noorde terug te bring na dialoog nadat Pyongyang die Suide tot ‘n vyandelike staat verklaar en sy doelwit van vreedsame hereniging laat vaar het.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, glo die briljante jong kolwer Dewald Brevis is beter toegerus vir die beperkte boulbeurt-formaat. Dis die rede waarom hy nie ingesluit is in die voorlopige groep vir volgende maand se drie toetse teen Australië nie, en ook nie dié somer enige toetse gaan speel nie. Conrad vergelyk die 23-jarige met die gewese Spaanse tennis-ster Rafael Nadal, wat baie net as ‘n kleibaan-spesialis beskou, en sê Brevis is eerder ‘n witbal-spesialis. Hy glo egter hy sal goed vaar in toetse in Suidoos- Asiatiese omstandighede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-165-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-64-sent per vat.
# En laastens, die PowerBall- en PowerBall-plus-trekkings bied vanaand ‘n gesamentlike geskatte boerpot van 101-miljoen-rand. Die PowerBall-boerpot staan op 80-miljoen-rand, terwyl die PowerBall-plus-boerpot 21-miljoen-rand beloop. Die trekking vind net ná nege-uur vanaand plaas. ‘n Ontleding van vorige trekkings toon nommer 13 is sedert Junie 2018 die meeste as hoofnommer getrek op 106-trekkings. Die grootste PowerBall-boerpot nóg was 232-miljoen-rand, wat in 2019 met een kaartjie in Kaapstad gewen is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….