Nuus 18:00
BULLETIN 11 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA onthul sy parlementêre span
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke bied ‘n nasionale dag van gebed aan voor die verkiesing
# En, rugby: Alle kaartjies is uitverkoop vir die Bokke se toets teen Ierland in Durban
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het die groep onthul wat Team Fix SA sal uitmaak en die party in die Parlement sal verteenwoordig. Athol Trollip lei uitvoerende sake en hou toesig oor die grond- en landbou-portefeulje. Tsholofelo Maforah sal fokus op Basiese Onderwys, Tutu Faleni op Hoër Onderwys en Solly Moeng op Internasionale Betrekkinge. Pieter Scribante hanteer Ekonomiese Ontwikkeling, terwyl Mpho Madisha Energie en Minerale Bronne sal hanteer. Infrastruktuur en Openbare Ondernemings sal gelei word deur Michael Beaumont, met Kgosi Letlape wat vir Gesondheid verantwoordelik is.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke ‘n nasionale dag van gebed op 5 Mei aangekondig in die aanloop tot die verkiesing. Die waarnemende hoofsekretaris, Mzwandile Molo, moedig landwye deelname aan om in gebed te verenig vir ‘n vredevolle, regverdige en intimidasie-vrye verkiesingsproses te midde van verhoogde mededinging. Molo sê die geleentheid wil politieke geweld teenwerk, met die verkiesing wat na verwagting een van Suid-Afrika se mees bestrede prosesse sal wees:
# Japan het 149-miljoen-rand beloof om kritieke mediese hulp te verskaf aan Egiptiese hospitale wat beseerde Palestyne uit die Gaza-strook behandel. Die befondsing is in samewerking met die Wêreldgesondheidsorganisasie. Die Japannese ambassadeur in Egipte, Oka Hiroshi, sê die ondersteuning is daarop gemik om aandag te skenk aan die ernstige mediese behoeftes wat vererger word deur toegangsbeperkings en aanvalle op gesondheidsgeriewe te midde van Israel se konflik met Gaza:
# Rugby: Dit het vanoggend net 90-minute geneem vir al die kaartjies om uit te verkoop vir die tweede toets tussen die Springbokke en Ierland in Durban. Die wêreldkampioen pak die span wat deur sommige beskou word as die wêreld se beste, op 13 Julie op Kingspark. Daar was ook groot belangstelling in kaartjies vir die eerste toets ‘n week vroeër in Pretoria. Die Haaie se uitvoerende hoof, Ed Coetzee, sê dis fantasties om die opwinding te beleef onder ondersteuners wat weer die Bokke in aksie sal sien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-318-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy goeie wense aan die Moslem-gemeenskap oorgedra aan die begin van Ramadan. Hy sê die heilige maand is ‘n spesiale tydperk van geestelike toewyding, fisiese opoffering en liefdadigheid vir Moslems regoor die wêreld. Ramaphosa sê sy gedagtes en gebede gaan uit na die talle nasies vir wie die heilige maand ‘n tyd van groot swaarkry en lyding is, en hoop Ramadan se boodskap sal ‘n einde bring aan konflikte en oorloë.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….