Nuus 18:00
BULLETIN 23 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Reserwebank verhoog die terugkoopkoers na 7,25-persent met inflasierisiko’s wat vererger
# TLU SA steun die lisensiëring van die Landbounavorsingsraad se bek-en-klouseerentstof
# En, ProNutro verdwyn van Suid-Afrikaanse winkelrakke
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 7,25-persent verhoog, weens hoër brandstofpryse en toenemende inflasierisiko’s. Die besluit was eenparig en het die uitleenkoers tot 10,75-persent laat styg. Die president van die bank, Lesetja Kganyago het aan die media gesê inflasie sal na verwagting later vanjaar en vroeg volgende jaar tot bo vyf-persent styg. Dit sal egter weer afneem indien brandstofpryse daal:
# Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom die aankondiging deur die minister van Landbou, Willie Aucamp, dat kwalifiserende plaaslike en internasionale entiteite entstof teen bek-en-klouseer op groot skaal mag vervaardig deur voorwaardelike lisensie-ooreenkomste met die Landbounavorsingsraad. Die hoofbestuurder van die LNR, Bennie van Zyl, sê die raad se entstof is uiters geskik vir Suid-Afrikaanse virusstamme en kan immuniteit vir tot ‘n jaar bied. Hy sê betrokkenheid van die privaat sektor kan die beskikbaarheid verbeter en kan koste verlaag:
# Die voedsel- en drankmaatskappy, PepsiCo, het bevestig die ikoniese graankos ProNutro gaan na 64 jaar nie langer in Suid-Afrika beskikbaar wees nie. Die besluit volg na ‘n terugslag vroeër vanjaar toe die maatskappy die oorspronklike produk vervang het met ‘n nuwe weergawe waarvan die smaak, tekstuur en reuk deur baie verbruikers gekritiseer is. PepsiCo sê ten spyte van maande se pogings kon hulle nie die oorspronklike produk met nuwe vervaardigingstegnologie herskep nie. Die laaste lot wat met die ou resep vervaardig is, bereik volgende maand sy vervaldatum.
# Die Franse president, Emmanuel Macron, kritiseer die Amerikaanse president, Donald Trump, se bewerings dat hy vrede in Gaza bewerkstellig het en sê die situasie is steeds ‘n skandvlek vir die wêreld. Macron het tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gesê nie ‘n enkele humanitêre deurgang in Gaza is heropen sedert Trump aangekondig het dat vrede bereik is nie. Trump het vroeër aan die Algemene Vergadering gesê sy vredesplan vir Gaza is ‘n “diplomatieke triomf.” Macron waarsku voortgesette geweld deur Israelse setlaars op die Wesoewer ondermyn die kanse van ‘n Palestynse staat.
# Sokker: Italië hoop op ‘n nuwe era wanneer Roberto Mancini se tweede termyn as hoofafrigter Vrydag begin met die UEFA-nasiesligawedstryd teen België in Rome. Dit sal die Azzurri se eerste mededingende wedstryd wees sedert hulle in Maart teen Bosnië en Herzegowina verloor het in hul laaste Wêreldbeker-kwalifiseerder, wat die viermalige kampioen die derde keer agtereenvolgens uit die toernooi gehou het. Dit het tot ‘n reeks veranderinge in die bestuurspan gelei. Mancini het die span in 2023 verlaat na hy hulle na ‘n oorwinning in Euro 2020 gelei het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-737-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-288-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….