Nuus 18:00
BULLETIN 22 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya bly in aanhouding by Kgosi Mampuru-gevangenis ná hofverskyning op seks-aanklagtes
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers herhaal die oproep vir hervormings om privaat gesondheidsorgkoste te verlaag
# En, motorsport: Suid-Afrika se Formula Een-bod kry momentum
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, sal na verwagting op 29 September weer in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding. Die senior polisie-offisier word daarvan beskuldig dat hy ‘n 18-jarige vrou verkrag het en ‘n 16-jarige meisie seksueel gekondisioneer het. Kaizer Kganyago van die Nasionale Vervolgingsgesag sê Sibiya sal in die Kgosi Mampuru-gevangenis in aanhouding bly terwyl die staat borgtog teenstaan, weens kommer oor inmenging met getuies, dreigemente en ‘n moontlike ontsnapping.
# Die Raad van Gesondheidsorgbefondsers steun die doelwit om verhogings in mediese skemabydraes so laag moontlik te hou, maar beklemtoon dit kan nie net deur bydrae-riglyne bereik word nie. Die Raad op Mediese Skemas het aanbeveel verhogings in bydraes vir die 2027-voordeeljaar moet op 3,8-persent gegrond wees. Besturende direkteur Katlego Mothudi sê gesondheidsorgverskaffers en groot hospitaalgroepe bepaal tans grootliks die pryse, terwyl mediese fondse en uiteindelik lede die koste moet dra:
# Build One South Africa het gereageer op die DA se jongste behuisingsbelofte vir Kaapstad en dit as “te min, te laat” bestempel. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het gister in die aanloop tot die plaaslike verkiesing, ’n nuwe plan vir bekostigbare behuising bekendgestel. Roger Solomons van BOSA sê egter die syfers dui aan daar is die afgelope jaar net meer as sewe-duisend-400 behuisingsgeleenthede regoor die Wes-Kaap verskaf, teenoor ’n waglys van meer as 490-duisend huishoudings.
# Rusland het aanvalle op nywerheidspersele in suidoos- en sentraal-Oekraïne uitgevoer waarin vier mense dood en ses beseer is. Missiele, hommeltuie en artillerie het verskillende stede getref en sakegeboue en pakhuise is beskadig. Oekraïne se Lugmag sê die aanvalle is onder meer uitgevoer met vier kruiser-missiele en 212 hommeltuie. ‘n Afsonderlike Russiese aanval op ‘n energie-aanleg in die noordelike streek Chernihiv het sowat 100-duisend huishoudings sonder krag gelaat.
# Motorsport: ‘n Suid-Afrikaanse konsortium wat Formule Een wil terugbring na die land het finansiële raadgewers aangestel terwyl die projek momentum kry. Die gewese hoof van Sibanye-Stillwater, Neal Froneman, en die mynbou-veteraan, Srinivasan Venkatakrishnan, steun die voorgestelde motorsport-kompleks van 6,7-miljard-rand in die Swartland noord van Kaapstad. Rothschild gee raad oor F1-goedkeuring, korporatiewe vennote en regeringsteun. Die ontwikkeling sluit ‘n renbaan van sowat twee-miljard-rand in wat aan F1-standaarde sal voldoen met gasvryheids-, konferensie- en woongeriewe. Dit sal 125-duisend toeskouers kan hanteer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-218-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-336-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….