Nuus 18:00
BULLETIN 5 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Korrupsie-ondersoek by Binnelandse Sake betrek amptenare
# Menseregtegroepe sê Iran het verlede jaar minstens 834 mense tereggestel
# En Suid-Afrika blink uit in internasionale lugvaart-oudits
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, het korrupsie-ondersoeke oor die uitreiking van visums en permitte verskerp, met meer betrokkenheid deur die Valke. Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan nou ook korrupsie sedert 2004 ondersoek. Die taakspan het bewyse gevind dat amptenare by bedrieglike goedkeurings betrokke was. Onreëlmatighede met die uitreik van aftreepermitte vir pensioentrekkers wat slegs vir beperkte tye of seisoene in Suid-Afrika wil woon, is ook geïdentifiseer. Ondersoeke het verder onreëlmatige verwerkingstye en teenstrydighede in dokumente aan die lig gebring.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra dringend die ontplooiing van meer opgeleide en sigbare polisiebeamptes ná die onlangse skietery in Braamfontein, Gauteng. Die VSA het hartseer uitgespreek nadat gewapende aanvallers helder oordag twee mans in ‘n motor doodgeskiet, ‘n student in ‘n bus noodlottig getref en nog een gewond het. Olivia Mashigo van die vereniging sê ondanks die versekering van hommeltuig-kameras, gaan misdaad voort. Sy vra die provinsiale regering vir die beveiliging van openbare ruimtes wat studente en werkers besoek:
# Menseregtegroepe sê Iran het verlede jaar minstens 834 mense tereggestel, die hoogste getal sedert 2015, te midde van ‘n toename in die doodstraf in dié Islamitiese republiek. Die aantal galg-teregstellings het met sowat 43-persent gestyg teenoor 2022. Dit was slegs die tweede keer in twee dekades dat meer as 800 teregstellings in ‘n jaar aangeteken is. Die vorige keer was 972 teregstellings in 2015.
# Motorsport: Na die seisoen se openingswedren in Bahrein is Formule Een hierdie naweek in Jedda vir die Saoedi-Arabiese Grand Prix. Max Verstappen was weereens in beheer en het voortgegaan waar hy verlede seisoen geëindig het. Sy Red Bull-spanmaat, Sergio Pérez, was tweede. Die Mexikaan hoop om nog verder te verbeter tydens die wedren in Jedda:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-544-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-132-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-40-sent per vat.
# En, laastens: Suid-Afrika se burgerlugvaartsektor het uitstekende uitslae getoon ná oudituitkomste van internasionale veiligheids- en sekerheids-organisasies. Dit sluit die Internasionale Burgerlugvaart-organisasie, die Federale Lugvaart-administrasie en die Vervoer-sekerheids-administrasie in. Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, sê die Internasionale Burgerlugvaart-organisasie het die land se veiligheidstoesigstelsel op 91,11-persent gradeer, wat nommer een in Afrika is en nommer 18 wêreldwyd. Sy sê Suid-Afrika hou steeds die Europese Unie seerkenning vir die state se vragsekerheidstelsel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….