Nuus 18:00
BULLETIN 21 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum sê Fikile Mbalula word saam met Julius Malema vervolg vir die Bergview-verkragtingsbewerings
# ‘n Onderwysaktivis steun NSFAS se operasionele veranderings om data te beveilig en foute te verminder
# En, ontruimings in Tokio word gelas weens gevaar van oorstromings en grondverskuiwings
# AfriForum sê die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sal strafregtelik vervolg word oor uitlatings wat hy gemaak het oor ‘n beweerde kinderverkragting by die Bergview College in Matatiele in die Oos-Kaap. Die Nasionale Vervolgingsgesag het ingestem om die saak te vervolg. Mbalula sluit dus aan by die EFF-leier, Julius Malema, wat teregstaan op ‘n soortgelyke aanklag. Gerrie Nel van AfriForum sê Mbalula se uitlatings het die kollege se skoolhoof, Jaco Pieterse, verkeerdelik betrek en dit skend sy waardigheid:
# Die taxibaas en sakeman Joe “Ferrari” Sibanyoni sê bewerings wat hom met verskeie polisiebeamptes verbind, moet ondersoek word. In sy getuienis voor die Madlanga-kommissie het Sibanyoni gesê hy ken persoonlik slegs een van die genoemde beamptes, en wel deur ‘n familielid. Hy ontken enige professionele of sakeverhouding met die betrokke beampte. Sibanyoni het ook bewerings betwis dat hy toegang tot eiendomme of groepsgesprekke beheer het, en sê toegangskodes kon sonder sy medewete gedeel word:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta verwelkom veranderings wat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vir die 2027-befondsingsiklus instel. Aansoeke vir befondsing is nou oop, met voornemende studente wat tot 18 November 2026 aansoek kan doen. Die skema het verskeie veranderings vir die 2027-siklus ingestel, insluitend die regstreekse verkryging van studente-inligting vanuit instellings se stelsels, asook die outomatiese kontrole en elektroniese ondertekening van dokumente. Makaneta sê die veranderings moet lei tot ‘n deursigtige en toeganklike aansoekproses:
# Ontruimings is in dele van die Tokio-gebied gelas soos die kragtige tifoon Dujuan die Stille Oseaan-kus in Japan nader en stortreën en sterk wind meebring. Japan se weerdiens waarsku toestande kan vinnig versleg namate die storm die hoofstad nader. Meer as 300 millimeter reën het sedert Saterdag in dele van die Izu-eilande en Chiba naby Tokio uitgesak. Owerhede waarsku ook oor kitsvloede en grondverskuiwings. Sowat 300 vlugte is gekanselleer en van die treindienste is opgeskort.
# Rugby: Die All Blacks se kaptein, Ardie Savea, moet ‘n skoueroperasie ondergaan en sal waarskynlik nie weer speel voor volgende jaar se Super Rugby Pacific-seisoen nie. Hy het sy skouer beseer in die derde toets van die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks, wat Suid-Afrika 3-1 gewen het. Nog ‘n losvoorspeler, Luke Jacobson, het reeds ‘n operasie ondergaan om ‘n sening in sy elmboog te heg en die vleuel Caleb Clarke sukkel ook met ‘n skouersening. Die All Blacks berei tans voor vir volgende maand se Bledisloebeker-toetse teen die Wallabies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-320-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-331-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….