Nuus 18:00
BULLETIN 18 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Nasies vra verskerpte optrede teen Suid-Afrika se geslagsgeweldkrisis
# Die Voorsitter van die Staatsdienskommissie, sê die nuwe Wet op die Staatsdienskommissie is ‘n mylpaal ná 19-jaar
# En, ‘n Britse vrou word gered ná haar ontvoering in Malawi
# Die Verenigde Nasies in Suid-Afrika sê hy is diep besorg oor die onlangse moorde op verskeie vroue in Ekurhuleni, Gauteng. Die VN het gevra vir ‘n spoedige en deeglike ondersoek en vra die skuldiges moet aanspreeklik gehou word. Daar word ook gevra vir strenger maatreëls om geweld te voorkom, vroue te beskerm en toegang tot geregtigheid te verbeter. Volgens die VN is die moorde ‘n aanduiding van die voortgesette bedreiging van geslagsgeweld en vrouemoord vir vroue en meisies.
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, sê president Cyril Ramaphosa se bekragtiging van die nuwe Wet op die Staatsdienskommissie is ‘n mylpaal wat bykans 19-jaar in wording was. Fikeni het die Madlanga-kommissie toegespreek en gesê die wet versterk die kommissie se onafhanklikheid deur hom minder afhanklik te maak van die Departement van Staatsdiens en Administrasie. Hy sê ook die wet versterk die kommissie se vermoë om sy grondwetlike mandaat uit te voer en maak sy bevindings meer bindend:
# ‘n Britse vrou wat in Malawi ontvoer is, is met haar gesin herenig ná ‘n polisie-optrede naby Blantyre. Vier mans het die 47-jarige Nusrat Osman verlede week ontvoer. Die polisie sê die vermeende ontvoerders is dood tydens ‘n skietery gedurende die reddingsoperasie. ‘n Senior polisiebeampte is gewond, maar in ‘n bestendige toestand. Osman is ná haar redding hospitaal toe geneem vir behandeling en mediese ondersoeke. Die polisie sê die motief vir die ontvoering is nog onbekend en die ondersoek duur voort.
# Krieket: Ben Sawyer het na vier jaar as hoofafrigter van Nieu-Seeland se vrouespan bedank, ná ‘n omvattende hersieningsproses van die span se hoëprestasiestruktuur. Sy kontrak sou eers in Desember verstryk het. Sawyer se grootste prestasie was om die White Ferns in 2024 in Dubai na hul eerste T20-Wêreldbekertitel te lei. Spanbestuurder Rachel Pettit gaan ook die span verlaat. Sawyer sê sy tyd saam met die span was onvergeetlik en hy is trots op wat hulle bereik het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-139-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-351-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-72-sent per vat.
En laastens, brandweerdienste in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê brandbestryders veg steeds teen ‘n brand in die berghange bo Simondium. Die brand woed bo die Plaisir Wynlandgoed en word vererger deur sterk wind en digte plantegroei. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê spanne van die munisipaliteit en CapeNature werk saam om die brand onder beheer te bring, maar die moeilike terrein verhinder brandbestrydingsvoertuie om die brandlyne te bereik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….