Nuus 18:00
BULLETIN 17 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Public Interest South Africa vra vir strenger keuringsprosesse in die openbare sektor
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille open amptelik ‘n twee-miljard-rand Club Med-oord
# En, Oekraïne prys die Amerikaanse wetsontwerp oor sanksies teen Rusland
# Die stigter van Public Interest South Africa, Tebogo Khaas, vra strenger leefstyloudits en beter keuringstelsels. Dit volg terwyl die Madlanga-kommissie voortgaan met sy ondersoek na politieke inmenging in die strafregstelsel. Khaas het aan die SABC gesê Suid-Afrika het moontlik nie ‘n algehele hersiening van sy wetgewing nodig nie, maar bestaande maatreëls moet meer doeltreffend toegepas word. Hy sê verklarings van finansiële belange deur politici en amptenare moet behoorlik nagegaan word vir verborge belange en onvolledige openbaarmaking:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die amptelike opening van Suid-Afrika se eerste Club-Med-strand- en safari-oord namens president Cyril Ramaphosa in KwaZulu-Natal waargeneem. Die ontwikkeling verteenwoordig ‘n belegging van meer as twee-miljard-rand. Dit het 600 direkte permanente werksgeleenthede en een-duisend-500 indirekte poste geskep of ondersteun, terwyl meer as twee-duisend-300 werksgeleenthede tydens die konstruksiefase geskep is. Sy sê die oord kombineer kus- en safari-toerisme en skep terselfdertyd geleenthede vir plaaslike ondernemings, werkers en gemeenskappe:
# Die African Independent Congress het die speaker van die Johannesburgse stadsraad, Margaret Arnolds, as sy burgemeesterskandidaat vir die plaaslike regeringsverkiesing aangekondig. Arnolds was voorheen ‘n lid van die burgemeesterskomitee vir Gemeenskapsontwikkeling en Finansies en dien tans as Speaker. Die party sê haar verkiesingsveldtog sal op dienslewering, aanspreeklikheid, infrastruktuur en plaaslike ekonomiese ontwikkeling fokus:
# Die Oekraïnse president, Volodimir Zelenski, verwelkom die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se goedkeuring van ‘n omvattende wetsontwerp oor sanksies teen Rusland. Die wetgewing is met 262 stemme teen 159 aanvaar en is gemik op Rusland se energie- en verdedigingsbedrywe, asook sy skaduvloot wat gebruik word om sanksies te omseil. Die wetsontwerp sal die Amerikaanse president Donald Trump toelaat om invoertariewe van tot 100-persent in te stel op lande soos China en Indië wat steeds Russiese olie en gas aankoop. Die wetgewing is verlede maand deur die Senaat goedgekeur en moet nou deur Trump onderteken word.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se kaptein Ronwen Williams sê ‘n moontlike eindstryd in die FIFA-Interkontinentale beker teen Paris Saint-Germain is hulle uiteindelike doelwit. Die “Brazilians” moet Saterdag eers teen die Asiatiese kampioen, Al Ahli Saudi FC, op Loftus Versfeld wen. Sundowns het vir die toernooi gekwalifiseer deur die CAF-kampioeneliga te wen. Williams het sy spanmaats gewaarsku dat kanse teen Al-Ahli beperk sal wees en Ivan Toney en Francisco Trincão is ‘n bedreiging, ‘n aanvalsduo wat in die Saoedi-proliga as dodelik bestempel word. Die afskop is om 3-uur die middag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-609-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-366-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….