Nuus 18:00
BULLETIN 29 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sal die G-20-spitsberaad in 2025 aanbied
# Sasol en Transnet se vyfjaar-vennootskap sal spoorvervoer se betroubaarheid versterk
# En, sokker: Ronaldo word gestraf oor ‘n uitlokkende gebaar in ‘n wedstryd in Saoedi-Arabië
# Die minister in the Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die kabinet se oorweging bevestig van die voorbereidings vir die G20-spitsberaad wat Suid-Afrika volgende jaar aanbied. Dit is ‘n geskiedkundige oomblik want die land is die eerste Afrika-land wat die gasheer is vir die glansryke byeenkoms. Ntshavheni het die media ingelig oor die uitkoms van die kabinetsvergadering en vertroue uitgespreek in Suid-Afrika se vermoë om ‘n suksesvolle spitsberaad aan te bied. Ntshavheni sê die kabinet het ook die aanbieding goedgekeur van die negende jaarlikse vergadering van die Nuwe Ontwikkelingsbank in Junie vanjaar, wat die regering se toewyding versterk aan volhoubare ontwikkeling op die vasteland:
Die kabinet verwelkom ook Sasol en Transnet se privaat-openbare vennootskap om die betroubaarheid van spoorvervoer te versterk. Volgens die ooreenkoms sal Transnet-spoorvrag sy vloot van 128 ammoniak-tenkwaens gebruik om die gas te vervoer van Sasol se aanlegte na kliënte. In ruil daarvoor sal Sasol die onderhoud- en herstelprogram van die vloot oor vyf jaar finansier. Ntshavheni het aan die media gesê die vennootskap is belangrik in die vraglogistiek-padkaart, met ‘n verwagte positiewe uitwerking op beide maatskappye en die breër ekonomie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwag die vinnige uitlewering van twee verdagtes wat verbind word met die moord op die kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes en sy vriend, die sakeman Tebello “Tibz” Motsoane. Die twee is Saterdag in Eswatini in hegtenis geneem en het Maandag in die hof verskyn. Vyf ander beskuldigdes het vandag in die Landdroshof in Durban verskyn waar die saak tot Woensdag uitgestel is. Die NVG se KwaZulu-Natalse woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê daar is verskeie aanklagte teen die beskuldigdes:
# Sokker: Die beheerliggaam in Saoedi-Arabië het die Portugese ster Cristiano Ronaldo vir een wedstryd geskors en hom met byna 154-duisend-rand beboet nadat hy ‘n gebaar op die veld gemaak het wat beskou is as uitlokking. Die voorval het gebeur tydens sy span Al-Nassr se onlangse wedstryd teen Al-Shabab. Ronaldo was geïrriteerd nadat die skare hom uitgetart deur die naam uit te roep van sy langtermyn mededinger, die Argentynse kaptein Lionel Messi. Ronaldo het na die tyd gesê die gebaar word in Europoa beskou as ‘n uitdrukking van krag en oorwinning.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-30-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-48-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Skrikkeldag is die skuld gegee vir ‘n tegniese fout met kaartbetalingsmasjiene by Nieu-Seelandse vulstasies wat tien-uur lank geduur het. Die land se brandstofverskaffers sê hulle stelsels was nie geprogrammeer om die datum 29 Februarie te hanteer nie, wat gelei het tot probleme met kaartbetalings vir alle brandstofhandelsmerke. Die probleem is eers teen ongeveer sewe-uur die aand opgelos. Die sagtewareverskaffer, Invenco, sal na verwagting ‘n volledige verklaring uitreik oor die saak. Verskaffers beloof ‘n afslagdag volgende week om klante te vergoed vir die ongerief.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….