Nuus 18:00
BULLETIN 14 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê elke padsterfte is een te veel
# Die staatsdiens-etiek word bevraagteken te midde van onthullings by die Madlanga-kommissie
# En, president Donald Trump en president Xi Jinping kan moontlik ‘n Nobelprys wen indien hulle ‘n KI ooreenkoms kan bemiddel
# Die regering is bekommerd oor die hoë aantal sterftes op die land se paaie nadat afsonderlike botsings minstens 29 lewens geëis het. Agt mense is gister op die N17 naby Ermelo in Mpumalanga dood en 21 mense is vandag in ‘n botsing tussen verskeie voertuie op die N1 in die Wes-Kaap dood. Die adjunk-regeringswoordvoerder William Baloyi het motoriste gemaan om geduldig en versigtig te wees aangesien die verkeer na verwagting in aanloop tot Erfenisdag sal toeneem:
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, bevraagteken of onlangse onthullings by die Madlanga-kommissie daarop dui dat die staatsdiens toenemend deur persoonlike verryking eerder as openbare plig gedryf word. Fikeni het tydens die tweede professor Stan Sangweni-gedenklesing in Pretoria besin oor Sangweni se nalatenskap van etiese leierskap en verantwoordbare bestuur. Hy het bevraagteken hoe staatsamptenare op beskeie salarisse multimiljoenêrs word, en daarop gewys dat Sangweni die openbare amp as ‘n verantwoordelikheid beskou het:
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na veiligheids- en BBP-beskermingskontrakte in die eThekwini-munisipaliteit uitgebrei. ‘n Wysiging aan Proklamasie 226 van 2024 brei die ondersoektydperk en die verkrygingsaangeleenthede uit wat ondersoek word. Die eenheid sal vasstel of die kontrakte deur regverdige, mededingende en deursigtige prosesse toegeken is, en of dit kostedoeltreffend was. Ondersoekers sal ook bepaal of daar enige onreëlmatige uitgawes was. Enige bewyse van misdadige optrede wat tydens die ondersoek aan die lig kom, kan verwys word vir vervolging.
# Die uitvoerende hoof van OpenAI, Sam Altman, sê die Amerikaanse president Donald Trump en die Chinese president Xi Jinping sou dalk die Nobelprys vir Vrede verdien indien hulle ‘n ooreenkoms – selfs al is dit net een bladsy lank – oor die veiligheid van kunsmatige intelligensie bereik. Altman sê samewerking tussen Washington en Beijing kan help om te voorkom dat gevaarlike KI-stelsels sonder voldoende veiligheidsmaatreëls ontwikkel word. Dit volg na debatte onder regerings en tegnologiemaatskappye om toenemend kragtige KI te bestuur. Altman sê ‘n ooreenkoms tussen díe twee moondhede kan ‘n belangrike uitwerking op wêreldveiligheid hê.
# Rugby: Die Wallabies-afrigter Les Kiss het ‘n groep van 34 spelers aangekondig vir die 27ste se eenmalige toets teen die Springbokke in Perth, met die verrassende terugkeer van Jordan Petaia. Die veelsydige agterspeler het laas in 2023 in die Wêreldbeker-toernooi vir Australië uitgedraf. Die losskakel Harry McLaughlin-Phillips is opgeroep vir sy moontlike eerste toets in die plek van die beseerde Carter Gordon. Stut Zane Nonggorr keer ook terug nadat hy van ‘n ligte besering herstel het. Kiss sê die Wallabies sien uit na die uitdaging om Suid-Afrika voor ‘n tuisskare te pak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-205-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-271-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 110-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….