Nuus 18:00
BULLETIN 26 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika mik om teen Junie 2025 af te wees van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys
# Die OVK bevestig die MK-party se registrasiegeskil dien voor die hof
# En, niemand is beseer nadat Indiese trein meer as 70-kilometer sonder ‘n drywer ry nie
# Die adjunk-direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Ismail Momoniat, sê hulle glo dat Suid-Afrika teen Junie volgende jaar kan af wees van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys. Dit spruit uit die organisasie se onlangse voltallige vergadering in Parys, waar die land se vordering beraam is. Suid-Afrika is verlede jaar op die gryslys geplaas weens nie-voldoening aan internasionale standaarde oor teen-geldwassery en die finansiering van terrorisme. Die globale finansiële waghond bepaal Suid-Afrika moet voldoen aan 17 van die 22 vereistes om verwyder te word van die gryslys.
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het bevestig die Verkiesingshof hersien tans die registrasie van die uMkhonto weSizwe-party. Die ANC daag die registrasie uit en wil dit opsygesit en onregmatig verklaar hê. Die regerende party is ook betrokke by ‘n handelsmerkgeskil met die MK-party oor logo-ooreenstemmings. Die adjunkvoorsitter van die OVK, Janet Love, sê die kommissie kan net optree volgens bestaande dokumentasie en wetgewing:
# Rise Mzansi het, saam met honderde werklose gesondheidsorgwerkers, opgeruk na die Uniegebou om ‘n versoekskrif in te dien wat die stryd van die werkers uitlig om werk te kry. Die Departement van Gesondheid het verlede week ‘n begrotingstoekenning van 3,7-miljard-rand aangekondig vir die werwing van bykomende personeel. Die Gautengse sameroeper van Rise Mzansi, Tebogo Moalusi, beklemtoon dit is onaanvaarbaar dat gesondheidsorgwerkers by die huis sit terwyl die sektor te min personeel het:
# Indiese owerhede probeer vasstel wat veroorsaak het dat ‘n goederetrein met 53 waens wat stukkies klip vervoer het, vir 70-kilometer sonder ‘n drywer geloop het. Hy is uiteindelik gestop nadat hy teen 100-kilometer per-uur verby verskeie stasies gejaag het. Niemand is beseer nie. Die probleem het glo by die Kathua-stasie begin waar ‘n verandering van bemanning geskeduleer was, maar die trein het teen ‘n helling begin afbeweeg. Spoorwegpersoneel het kruisings langs die pad afgesluit en uiteindelik die wegholtrein gestop deur houtblokke op die spore te plaas.
# Motorsport: Die Formule Een-seisoen skop die naweek in Bahrein af nadat die spanne verlede week hulle voor-seisoense oefenrondes afgehandel het. Charles Leclerc van Monaco het die vinnigste tyd in sy Ferrari aangeteken, terwyl sy Spaanse spanmaat, Carlos Sainz, ook twee goeie dae van toetse beleef het in sy laaste seisoen vir Ferrari voordat hy vervang word deur Lewis Hamilton van Brittanje, wat Mercedes verlaat. Maar Leclerc sê die Red Bull-span van die driemalige wêreldkampioen, Max Verstappen van Nederland, is steeds die span om te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-368-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….