Nuus 18:00
BULLETIN X 19 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Borgtog vir vier mans wat aangekla word van aanhitsing van geweld in Groblersdal
# EFF sê Lesufi se beloftes bly leeg
# En, krieket: Voormalige Engelse kapteins vaar uit teen die span se benadering ná Indië hulle verneder
# Borgtog van vyf-duisend-rand elk is toegestaan aan vier mans na hulle verskyning op aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld in Groblersdal in Limpopo. Devon Hofmeyr, Willem Petzer, Francois van der Merwe en Tewie Wessels staan tereg nadat onderonsies uitgebreek het buite die plaaslike Landdroshof waar die eienaar van ‘n sekerheidsmaatskappy, Piet Groenewald, en sy stiefseun, Stephan Greeff, verskyn het vir die beweerde aanranding van ‘n werknemer, Veneruru Kavari, en aanhitsing van ‘n hond teen hom. Landdros Agmat Mphago het vanoggend gesê almal is gelyk voor die reg en moet as onskuldig beskou word totdat skuld bewys is.
# Die EFF in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi het nie gehou by sy beloftes aan die inwoners van die provinsie nie. Volgens die party bly Lesufi se beloftes leeg – insluitend vinniger ekonomiese herstel, misdaadbestryding, beter lewensomstandighede en ‘n afname in werkloosheid. Hulle eis ook ‘n volledige opdatering van verlede jaar se beloftes, veral oor die hoë werksloosheidskoers en stygende misdaadvlakke. Nkululeko Dunga van die EFF nooi inwoners na hulle manifesbekendstelling by die Dobsonville-stadion in Soweto op 2 Maart:
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA moedig pendelaars in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga aan om die busmaatskappy Putco te boikot weens die beweerde mishandeling van ongeveer 120 geskorste werkers. Die nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, beskuldig Ptuco se bestuur van ‘n poging om werkers af te dank deur ‘n beloofde loonverhoging van ses-persent en bonusse te weerhou. Sy beklemtoon die skending van werkers se reg op ‘n regverdige dissiplinêre proses en vra steun met die kwessie:
# Die weduwee van die Russiese opposisieleier Alexei Navalny beskuldig president Vladimir Putin van sy moord met die senu-middel novichok. Hy is verlede week in die tronk dood. Yulia Navalnaya sê ook die owerhede versteek haar man se liggaam terwyl hulle wag vir tekens van die gif om te verdwyn. Sy onderneem om haar man se werk voort te sit. Intussen het Duitsland se ministerie van Buitelandse Sake Moskou se ambassadeur in Berlyn ontbied vir ‘n vergadering oor Navalny se dood, met die eis dat almal wat in hegtenis geneem is omdat hulle hom met blomme vereer het, vrygelaat moet word.
# Krieket: Voormalige Engelse kapteins het uitgevaar teen die huidige toetsspan se sogenaamde Bazbal-benadering nadat Indië hul gister behoorlik pak slae gegee het in die derde toets in Rajkot. Die gasheer het die besoekers met 434 lopies geklop en loop 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Dit het gelei tot vrae oor Engeland se soms roekelose aandrang op aanvallende spel, vernoem na sy afrigter, Brendon McCullum – met die bynaam Baz. Oudkapteins Michael Vaughan, Nasser Hussain en Michael Atherton het die huidige kaptein, Ben Stokes, gewaarsku ‘n span word beoordeel op reeksoorwinnings.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-190-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-16-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….