Nuus 18:00
BULLETIN 31 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa prys die belegging in hernubare energie en werkskepping op ‘n Mpumalanga-windplaas
# Dieselpryse kan volgende week met byna twee-rand per liter styg
# En, Sokker: Broos is trots op sy termyn as Bafana Bafana se afrigter
# President Cyril Ramaphosa het die Ummbila Emoyeni-windplaas naby Bethal in Mpumalanga amptelik geopen en beskryf dit as ‘n belangrike stap in Suid-Afrika se energie-oordrag. Die windplaas is ontwikkel deur Seriti Green, beskik oor meer as 25 windturbines en het meer as een-duisend werksgeleenthede geskep. Sowat die helfte daarvan bevoordeel inwoners van omliggende gemeenskappe. Ramaphosa het tydens die hoofrede gesê die regering se elektrisiteitshervormings het ten doel om betroubare, bekostigbare en volhoubare elektrisiteitsvoorsiening te verseker:
# ‘n Skerp styging in dieselpryse kan volgende week verwag word weens hoër ruoliepryse en die verswakking van die rand. Die prys van groothandeldiesel sal na verwagting met byna twee rand per liter styg. News24 berig die situasie rondom petrolpryse is onseker, met die prys van 95-oktaan wat na verwagting grootliks onveranderd sal bly en 93-oktaan wat moontlik ‘n effense daling sal toon. Die finale brandstofprysaanpassings sal deur die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne aangekondig word voor dit Woensdag in werking tree.
# Die DA het hofstukke by die Hooggeregshof in die Wes-Kaap ingedien om die aanstelling en 70-persent salarisverhoging van die Parlement se sekretaris, Xolile George, te betwis. Die party beweer die Parlement is mislei toe sy aanstelling goedgekeur is, aangesien die salarisverhoging van drie-miljoen-rand tot vier-miljoen-rand onwettig en onreëlmatig was. George Michalakis van die DA sê George was nie onder die 81 aansoekers wat vir die pos teen die oorspronklike, laer salariskoers oorweeg is nie:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die regering bly daartoe verbind om Suid-Afrikaners wat tydens die bevrydingstryd in ballingskap gesterf het, huis toe te bring. McKenzie het in Pretoria gesê Angola, die tuiste van verskeie ANC-militêre kampe, is die eerste fokus in die vyfjaar-repatriasieprogram. Hy sê president Cyril Ramaphosa het die regering opdrag gegee om met die werk voort te gaan, ongeag die koste, en wys daarop dat die oorskot van 42 bevrydingshelde reeds gerepatrieer is.
# Sokker: Bafana Bafana se voormalige afrigter, Hugo Broos, is trots daarop om die eerste nasionale spanafrigter in 32 jaar te wees wat sy volle kontrak voltooi. Hy sê dit weerspieël die span se sukses en die sterk verhoudings wat gebou is. Die Belg sê hy vertrek slegs omdat dit moeilik is sonder sy gesin. Broos sê die respek en ondersteuning wat hy ontvang het, maak dit ‘n besonder emosionele afskeid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-563-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-33-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….