Nuus 18:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee van die drie beskuldigdes in die Phala Phala-diefstalsaak is op borgtog vrygelaat
# Aanklagte word beteken op die beweerde aanstigters van die Julie 2021-onrus
# En, boks: ‘n Reuse swaargewig-eenwordingsgeveg word verwag tussen Fury en Usyk
# Die Landdroshof in Bela Bela, Limpopo het borgtog toegestaan aan twee van die drie beskuldigdes in die diefstalsaak by president Cyril Ramaphosa se plaas, Phala Phala. Die voormalige skoonmaker, Froliana Joseph, en haar broer, David Joseph, het borgtogbedrae van onderskeidelik vyf-duisend-rand en tien-duisend-rand betaal. Die staat het nie hul borgtog teengestaan nie. Die sibbe, en Imanuwela David, het na bewering in 2020 10,6-miljoen-rand op die plaas gesteel. Die aanklagte teen hulle behels veelvuldige aanklagte van huisbraak en diefstal.
# Aanklagte is beteken op 65-mense wat aangekla word in verband met die onrus en openbare geweld in KwaZulu-Natal in Julie 2021. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Natasha Ramkisson-Kara, sê die aanklagte sluit in sameswering om openbare geweld te pleeg, aanhitsing om openbare geweld te pleeg, terrorisme, opstoking en sameswering om moord te pleeg. Sy sê die beskuldigdes is uit op borgtog:
Speel klankgreep:
# Woolworths het as gevolg van dreigemente ʼn enkele Israeliese produk van sy rakke verwyder. Die stap volg na druk deur politieke en burgerlike groepe wat die winkelgroep gemaan het om nie langer Israeliese produkte te verkoop nie. Hoewel Woolworths polities neutraal is, benadruk die maatskappy die verwydering is ter wille van personeel en klante. Die kleinhandelaar benadruk, nie alle Israeliese produkte is verwyder nie en waarsku teen disinformasie.
# ‘n Amerikaner is tereggestel vir die moord op ‘n kleuter in 2001. David Renteria het die vyfjarige Alexandra Flores by ‘n winkelsentrum ontvoer terwyl die gesin Kersinkopies gedoen het. Hy het haar verwurg, en haar verbrande liggaam is die volgende dag in ‘n stegie gevind. Renteria het die familie om vergifnis gevra voordat hy die doodskamer binnegegaan het en gesê hy is jammer oor al die onregte wat hy gepleeg het. Hy is ‘n dodelike inspuiting toegedien nadat die Amerikaanse Hoërhof twee afsonderlike versoeke om die doodsvonnis af te gelas van die hand gewys het, slegs ure voor sy teregstelling.
# Boks: Tyson Fury pak Oleksandr Usyk op 17 Februarie in Saoedi-Arabië. Die wenner sal die eerste onbetwiste swaargewigkampioen in die viergordel-era wees. Die 36-jarige Usyk van Oekraïne is die kampioen van die WBA, WBO en IBF, en die 35-jarige Fury van Brittanje dra die WBC-gordel. Albei is onoorwonne. Volgens Fury sal dit ‘n reuse eenwordingssgeveg wees:
Speel klankgreep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-290-dollar-80-sent. Die prys van goud is een-duisend-984-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….