Nuus 18:00
BULLETIN 19 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die aansoek vir die opheffing van die Poskantoor se sakeredding
# Pietermaritzburg word gedeeltelik tot stilstand gebring met betoging
# En rugby, die Barbarians se afrigter sê hulle is slaggereed om die Springbokke aan te vat
# Die vakverbond Cosatu sê die Suid-Afrikaanse Poskantoor kan met bevoegde bestuur herstel word en weer ‘n bydrae lewer om ekonomiese groei te stimuleer en werk te skep. Die Poskantoor se gesamentlike sakereddingpraktisyns het ʼn aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die sakeredding te beëindig. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê die afwesigheid van toegewyde en bevoegde leierskap is die oorsaak van die Poskantoor se pynlike verval:
# Meer as 500 ondersteuners van die March and March-beweging het in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, byeengekom en geëis dat ongedokumenteerde buitelandse burgers Suid-Afrika moet verlaat voor ‘n self-opgelegde sperdatum van 30 Junie. News24 berig die anti-onwettige migrasiegroep wil soortgelyke repatriasieprosesse vir burgers van ander lande hê, ná die onlangse repatriasie van Malawiese burgers uit Durban. Swaar polisie en privaat sekuriteit is ontplooi toe die optog deur die stad beweeg het. Organiseerders sê die veldtog vorm deel van ‘n breër poging om die toepassing van immigrasiewette te verskerp.
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê hulle is daartoe verbind om oorsig te verbeter, lewering te versnel en seker te maak infrastruktuurbeleggings bereik hul doel. Sy het gister ʼn oorsig-inspeksie gedoen by strategiese pad- en vervoer-infrastruktuurprojekte. Dit sluit in die geïntegreerde openbare snelvervoer-netwerk se Lyn Drie en die WF Nkomo-straat se bladvernuwingsprojek. Moya sê die hernude fokus op township-infrastruktuur toon die metro se verbintenis om toegang, geleentheid en dienslewering te verbeter:
# Rugby: Die Barbarians se afrigter, Scott Robertson, sê dis ‘n spesiale geleentheid vir die uitnodigings-vyftiental om in Suid-Afrika teen die wêreldkampioen-Springbokke te speel. Hulle meet môre in Gqeberha kragte met die aanvang van die Bokke se seisoen. Die voormalige All Black-afrigter het ‘n groep van 23 spelers van 12 verskillende lande byeengebring, insluitend TJ Peranara, Virimi Vakatawa, en Miracle Fai’ilagi. Robertson sê die gehalte en verskeidenheid van sy span is spesiaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-156-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-157-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 79-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte, Iran gaan ‘n amptelike klagte by die wêreldbeheerliggaam, FIFA, indien oor Amerikaanse reisbeperkings op die span tydens die Wêreldbekertoernooi. Die medegasheer het Iran se versoek geweier om twee dae voor Sondag se groepswedstryd teen België uit sy Mexikaanse basis na Los Angeles te reis. Amerika het die land ingelig spelers sal slegs ‘n dag voor wedstryde toegelaat word, en moet onmiddellik daarna weer vertrek. Die Iranse beheerliggaam sê dit benadeel hul voorbereiding.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….