Nuus 18:00
BULLETIN 12 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Sesi Baloyi ondervra Verkeershoof Samuel Mashaba oor die beweerde misbruik van polisiehulpbronne
# Minister Velenkosini Hlabisa sê provinsies ervaar toenemend druk weens klimaatsverandering
# En rugby: Die Bulle vertrou op ervaring en jeug vir die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd
# Sesi Baloyi van die Madlanga-kommissie het die Gautengse Verkeershoof Samuel Mashaba ondervra oor bewerings dat hy staatshulpbronne gebruik het om voertuigregistrasiebesonderhede vir sakeman Tumelo Nku na te gaan. Mashaba het reageer op vrae rondom die 700 kilogram kokaïen ter waarde van 300-miljoen-rand wat in Aeroton gevind is. Volgens Baloyi was die versoeke moontlik deel van ‘n nie-amptelike sekondêre bron van inkomste eerder as wettige polisiewerk:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê provinsies beleef voortdurend druk weens rampe, klimaatsverandering en infrastruktuur-agterstande. Hy sê daar is 2,161-miljard-rand se rampherstel-toelaes aan 92 munisipaliteite toegeken, en 191,16-miljoen-rand deur die rampreaksie-toelaag aan 16 munisipaliteite. Hlabisa sê bykomende toekennings van 151-miljoen-rand aan provinsies en 203-miljoen-rand aan munisipaliteite word tans afgehandel:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is woedend oor berigte dat die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur sowat 50-miljoen-rand gaan betaal vir ‘n huurooreenkoms van ʼn gebou in Pretoria wat nooit gebruik is nie. ʼn Woordvoerder, Claude Naicker, sê dit verteenwoordig ernstige versuim wat bestuur, aanspreeklikheid en finansiële bestuur in die betrokke departement betref. Hy sê die situasie laat belangrike vrae ontstaan, soos wie het toestemming gegee vir die huurkontrak, en watter prosesse is gevolg voor die staatsfondse bestee is:
# AfriForum het ‘n dringende Hooggeregshof-aansoek ingedien om die Stad Johannesburg se 65,6-persent verhoging in sy waterheffingsbestuursfooie te betwis. Deidré Steffens van AfriForum voer aan die metro het nie voldoende redes of ‘n duidelike berekeningsmetode vir die verhoging verskaf nie. Huishoudings kan vanaf 1 Julie meer as 107-rand per maand betaal, ongeag hul waterverbruik. Sy beklemtoon die gebrek aan deursigtigheid het betekenisvolle openbare deelname ondermyn en vra die hof om in te gryp:
# Rugby: Die Bulle-groep wat na Dublin reis vir volgende Vrydag se United Rugbykampioenskap-eindstryd weerspieël ‘n sorgvuldig gebalanseerde kombinasie van ervaring, jeug en veelsydigheid, wat die span in ‘n sterk posisie plaas om die eise van ‘n spannende geleentheid te behartig. Die groep het ‘n totaal van 17 ervare Springbokke soos Willie le Roux, Handré Pollard, Marcell Coetzee en Kurt-Lee Arendse. Hulle word aangevul deur ‘n opwindende groep nuwe talent, insluitend Cameron Hanekom en Cheswill Jooste. Voorlangs bied die voorspelers fisieke spel en beweeglikheid, terwyl die agterlyn beheer en kreatiwiteit kombineer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-509-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-189-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….