Nuus 18:00
BULLETIN 9 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie daag OPOD-ondersoeker, Takalani Maphosho, uit oor Feroz Khan se bewyse
# Die VF Plus eis ‘n ondersoek na e-posskandaal in Landboudepartement oor bek-en-klouseer
# En, die Stad Johannesburg skets planne om oudituitkomste aan te pak
# Die Madlanga-kommissie het die assistent-direkteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Takalani Maphosho, ondervra oor haar beoordeling van majoor-generaal Feroz Khan se verklaring rakende die Aeroton-dwelmklopjag in die suide van Johannesburg in 2021. Kommissaris Sesi Baloyi het aangevoer Maphosho se getuienis was teenstrydig en beklemtoon Khan het ‘n omvattende en deeglike uiteensetting van sy optrede op die toneel gegee. Maphosho erken die kommissie se kommer en aanvaar die kritiek:
# Die VF Plus vra ‘n ondersoek na ‘n beweerde e-posboodskap wat verband hou met die Departement van Landbou oor bek-en-klouseer. Die e-pos, wat blykbaar net ‘n grap was, maar wyd gedeel is op sosiale media, is glo deur ‘n senior amptenaar aan bestuurders van die departement gestuur. Wynand Boshoff van die party sê die saak wek kommer oor houdings teenoor die vee-siektekrisis:
# Die Stad Johannesburg het die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge en die Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering verseker maatreëls word ingestel om swakhede in finansiële bestuur, wat in sy 2024/25-oudit uitgelig is, aan te spreek. Die metro het ‘n gekwalifiseerde oudit ontvang, met kommer oor onbefondsde begrotings, ongemagtigde uitgawes en beduidende inkomsteverliese. Hoof- Finansiële Beampte Tebogo Moraka sê die stad het teen einde Mei 7,5-miljard-rand in uitstaande krediteureskuld gehad. Hy sê Johannesburg Water, City Power en Pikitup se uitstaande skuld sal voorkeur kry.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, en sy Italiaanse ampsgenoot, Francesco Lollobrigida, het ‘n ooreenkoms van verstandhouding onderteken om samewerking in landbou, landbouverwerking, vernuwing en marktoegang te versterk. Die ooreenkoms is in Kaapstad onderteken tydens die eerste Suid-Afrika–Italië Landbou-sakeforum. Steenhuisen sê die vennootskap het ten doel om handel, belegging en waardetoegevoegde landbouvennootskappe tussen die twee lande uit te brei en voedselproduksie te bevorder:
# Sokker: Iran het die VSA daarvan beskuldig dat hy die land se kaartjietoekenning vir die Wêreldbeker-toernooi in Amerika, Kanada en Mexiko, wat Donderdag begin, herroep het. Die land se beheerliggaam sê die mede-gasheer het weereens opgetree om die teenwoordigheid van Iranse ondersteuners by stadions te belemmer. Iran speel al drie sy groepwedstryde, teen Nieu-Seeland, België en Egipte, in Amerika. Die reëls bepaal ‘n deelnemende span moet agt-persent van die kaartjies vir elke wedstryd ontvang. Iran sê ondersteuners het reeds reis- en verblyfplanne getref.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-173-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-327-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….