Nuus 18:00
BULLETIN 16 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel beskuldig Suid-Afrika van manipulasie van die Internasionale Geregshof in reaksie op Hamas
# Die DNS-agterstand daal tot nul vanaf 251-duisend
# En OUTA vra strenger oorsig in intelligensie-agentskappe
# Israel het Suid-Afrika beskuldig van manipulasie van die Internasionale Geregshof om Hamas te beskerm in die nasleep van Israel se konflik in Rafah. Die Israeliese regering het die hof versoek om Suid-Afrika se dringende versoek om ingryping te verwerp, en die benadering as eienaardig, voortydig en onbehoorlik bestempel. Israel het sy verbintenis tot die nakoming van internasionale reg beklemtoon, insluitend die Volksmoord-konvensie en internasionale humanitêre reg.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê daar was ‘n merkwaardige prestasie in misdaad-oplossings-pogings aangesien die geskiedkundige DNS-agterstand nou op nul is, vanaf 251-duisend in die 2021/2022-boekjaar. Die minister het met die onthulling van die derde kwartaal se misdaadstatistiek die beduidende bydrae van die uitgebreide DNS-laboratorium in Gqerberha, in die Oos-Kaap, uitgelig, waar meer monsters verwerk word. Cele sê die verwerking van DNS-monsters speel ‘n deurslaggewende rol in die polisie se stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vrees die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette kan gevaar inhou vir die demokrasie. OUTA het uitvoerige kritiek teen die wetsontwerp aan die Parlement voorgelê en ernstige kommer uitgespreek oor die uitgebreide agtergrondsondersoek-magte van die staat se intelligensieagentskappe, uitgebreide waarnemingsvermoë sonder behoorlike veiligheidsmeganismes, en ‘n gebrek aan oorsig en aanspreeklikheid. ʼn Woordvoerder van die organisasie, Stefanie Fick, maan die Parlement om die wetsontwerp te onttrek of te hersien sodat dit in ooreenstemming met die Grondwet is:
# Meer as ‘n duisend mense het vandag by die Thaise ambassade in Yangon tougestaan terwyl jongmense probeer het om Mianmar te verlaat nadat die junta gesê het militêre diensplig is verpligtend. Die Weermag het verlede naweek gesê daar sal ‘n wet afgedwing word wat hom toelaat om alle mans van 18 tot 35 en vroue van 18 tot 27 jaar vir minstens twee jaar van diensplig op te roep aangesien hy sukkel om teenkanting teen sy staatsgreep van 2021 te stuit. Die junta het te kampe met wydverspreide gewapende teenstand teen sy heerskappy, drie jaar nadat hy die mag van ‘n verkose burgerlike regering oorgeneem het.
# Rugby: Die Springbok-vleuels Canan Moodie en Kurt-Lee Arendse is ingesluit by die Bulle se span vir môre se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Leeus op Ellispark. Ruan Nortjé voer die Pretoria-span aan wat hulle bure van oorkant die Jukskeirivier twee weke gelede op Loftus Versveld met 30-28 geklop het. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê sy span wil nie net hulle kans verbeter om die uitspeelstryde te haal nie, maar wil ook momentum bou. Afskoptyd is drieuur môremiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-233-dollar-82-sent. Die prys van goud is een-duisend-997-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….