Nuus 18:00
BULLETIN 1 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Makashule Gana van Rise Mzansi word gekies as voorsitter van die ampsklagkomitee
# Saai beskuldig die minister van Landbou, John Steenhuisen, van wanvoorstelling van die hofuitspraak oor bek-en-klouseer
# En tennis: Geen voormalige kampioene meer oor op Roland Garros nie
# Makashule Gana van Rise Mzansi is verkies as voorsitter van die Parlement se ampsklagkomitee nadat hy 19 stemme teen 12 ontvang het. Die komitee het sy eerste sitting gehou om leierskap te kies, met die ANC en DA wat Gana se nominasie ondersteun het. Die EFF het United Africans Transformation se Wonderboy Mahlatsi genomineer. Die komitee sal sake ondersoek wat verband hou met die kontantdiefstalskandaal p president Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala. Gana sê reëls is reeds in plek, en sal nie die komitee se werk vertraag nie:
# Die Suider-Afrikaanse Landbou-inisiatief sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, stel ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat privaat inenting teen bek-en-klouseer toelaat, verkeerd voor. Die organisasie beskuldig Steenhuisen hy skep verwarring en vertraag samewerking tydens ‘n veesiektekrisis. Die hof het bevind daar is geen wettige verbod op boere en privaat eienaars wat entstowwe toedien nie. Die uitvoerende hoof van Saai, Francois Rossouw, het die regering aangespoor om die privaat sektor toe te laat om die uitbreking te help bestry:
# Liam Jacobs is weer terug by die DA nadat hy minder as ‘n jaar gelede by die Patriotic Alliance aangesluit het. Die DA-leier Geordin Hill-Lewis het Jacobs se terugkeer gister tydens ‘n aanlyn vergadering ondersteun. Hill-Lewis sê Jacobs het die DA in Junie verlede jaar verlaat en gesê hy is “uiteindelik vry” en “uiteindelik tuis”. Hill-Lewis sê sy terugkeer is ‘n noemenswaardige politieke ommekeer binne die opposisielandskap van Suid-Afrika:
# Die Nederlandse lugredery KLM het vlugte na en van Uganda gekanselleer, omdat internasionale reisbeperkings verbonde aan die Ebola-uitbreking in Sentraal-Afrika lugrederybedrywighede en bemanningsbewegings begin beïnvloed. Die lugredery sê verskeie lande het toegangs- en reismaatreëls ingestel vir mense wat onlangs deur Uganda gereis het. Die kansellasies raak tans vlugte wat vir 1 Junie geskeduleer is, maar die lugredery het betrokke passasiers laat weet herbesprekings- en terugbetalingskeuses is beskikbaar. KLM sê hulle hou situasie dop te hou voor ‘n besluit oor verdere vlugte geneem word.
# Tennis: Splinternuwe mans- en vrouekampioene sal die naweek op die Franse Ope gekroon word. Iga Swiatek van Pole se uitskakeling beteken daar is geen vorige kampioene oor nie, wat meer geleenthede bied vir ander spelers om ‘n eerste Grand Slam-titel te verower. Onder die mans is sake nou in die guns van die tweede-gekeurde Duitser Alexander Zverev en die jong Rafael Jodar van Spanje en die Brasiliaan Joao Fonseca. Die topgekeurde vrou, Aryna Sabalenka van Belarus, kan aanslae verwag van die Amerikaner Madison Keys en die Rus Mirra Andreeva.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-517-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-457-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….