Nuus 18:00
BULLETIN 3 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gee die Openbare Beskermer nog bewyse teen Gayton McKenzie
# Die VF Plus bevraagteken Amazon se 100%-swart-eienaarskapvereiste
# En, meer as tagtig migrante is vermoedelik naby die Kanariese Eilande dood
# Die DA het nuwe bewyse by die Openbare Beskermer ingedien as deel van sy klagte teen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie. Die party se woordvoerder, Leah Potgieter, sê die bewyse sluit kommer in oor die aanstelling van individue wat verbind word met die Patriotic Alliance op rade van openbare entiteite, asook McKenzie se reis van 31-miljoen-rand na die Sokkerwêreldbeker. Sy voeg by hierdie bewerings kan neerkom op oortredings van die Wet op Etiek van Uitvoerende Lede en die Etiekkode:
# Die Vryheidsfront Plus sê hulle sal Amerikaanse owerhede nader oor Amazon Webdienste se vereiste dat besighede wat aan hul Suid-Afrikaanse beleggingsprogram deelneem, 100-persent in swart besit moet wees. Die party soek duidelikheid of die vereistes regeringsregulasies is of van Amazon self kom. Jaco Mulder van die VF Plus sê ras moet nie bepaal wie ekonomiese geleenthede kry nie, en Suid-Afrika benodig meer beleggings, entrepreneurs en werkgeleenthede:
# Die Stad Johannesburg se bestuur het opdrag gegee dat dringend ingegryp word om wet en orde, en netheid in die middestad te herstel. Burgemeester Dada Morero en stadsbestuurder Floyd Brink het gister met die Johannesburg Metropolisie se senior bestuur vergader en eis strenger toepassing, groter aanspreeklikheid en sigbare operasionele verbeterings. Die metro-woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê onwettige handel, wetstoepassing, afvalbestuur, openbare ruimtes en stedelike netheid is probleme wat met mekaar verband hou en vereis dat departemente en instellings saamwerk:
# Minstens vyf migrante is dood aangetref op ‘n boot wat reddingspanne naby die Kanariese Eilande opgespoor het. Oorlewendes sê nog tot 83 mense is moontlik tydens die reis dood. Die organisasie vir migranteregte, Walking Borders, sê die boot was 27 dae op see ná sy vertrek uit Gambië. Een-en-veertig oorlewendes is in Gran Canaria aan wal gebring, terwyl nog drie in ‘n ernstige toestand per helikopter hospitaal toe geneem is. Die Maritieme Reddingsdiens het die vyf sterftes bevestig. Die voorval beklemtoon opnuut die gevare van die Atlantiese migrasieroete, wat as een van die dodelikste ter wêreld beskou word.
# Rugby: Die hoofafrigter van die All Blacks-vrouespan, Whitney Hansen, het ‘n span van 23 spelers aangewys om teen die Springbok-vrouespan op die FNB-stadion in ‘n geskiedkundige botsing te speel voordat die Springbokke Saterdag teen die All Blacks in die derde Rugby’s Great Rivalry-toets te staan kom. In die beginspan sal Georgia Ponsonby haar eerste verskyning as medekaptein vir die Swart Varings maak, met Hannah King wat as losskakel aangewys is. Ruahei Demant skuif na die bank en sal as medekaptein vir die wedstryd aanbly. Die afskop is om 13:30.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-475-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-475-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….