Nuus 18:00
BULLETIN 19 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Ordes vier Suid-Afrikaanse uitnemendheid in wetenskap, kuns en sport
# Cosatu sê toegang tot gesondheidsorg mag nie deur hofsake teen die NGV ontwrig word nie
# En, die president van Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa lewer kommentaar oor die voorgestelde Grondwetlike veranderinge
# Die 2026 Nasionale Ordes-toekennings het Suid-Afrikaners erken wat wêreldwyd ‘n impak maak in wetenskap, kuns en sport. President Cyril Ramaphosa het die Orde van Mapungubwe, Goud, toegeken aan professor Salim Abdool Karim vir sy bydrae tot mediese wetenskap en MIV/Vigs-navorsing, en professor Tulio de Oliveira vir wetenskaplike navorsing en die identifisering van die Omicron Covid-19-variant. Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die Orde van Ikhamanga ontvang, musikant Oscar Mdlongwa bekend as Oskido, en die Grammy-bekroonde fluitspeler Wouter Kellerman is onder andere erken vir uitstaande bydraes tot kuns, kultuur, musiek, voorspraak en sport.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê dit is belangrik dat toegang tot gesondheidsorg nie deur voortslepende hofsake teen die Nasionale Gesondheidsversekering en ander wetgewing ontwrig word nie. Die Konstitusionele Hof het Artikels 36 tot 40 van die Wet ongrondwetlik verklaar. Die hoofstukke handel oor die “Sertifikaat van Behoefte” wat die staat besluitnemingsmag verleen oor waar gesondheidspraktisyns moet praktiseer. Matthew Parks van Cosatu sê hulle sal met die Gesondheidsdepartement skakel om duidelikheid te verkry oor die impak van die beslissing:
# Build One South Africa sê die Departement van Kleinsake-ontwikkeling slaag nie daarin om groeiende werkloosheid aan te spreek nie, en benadruk onderbefondsing, swak uitvoering en swak leierskap. BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, het tydens die Parlement se debat oor die departement se begrotingsrede gesê klein ondernemings oorleef nie, ondanks steun deur die staat. Hy waarsku werkverliese lig dieper strukturele probleme in die ekonomie uit en doen ‘n beroep vir sterker beleggings in township-ekonomieë en entrepreneurskap. Hy voeg by hervorming is nodig om KMMO’s in volhoubare werkskeppers te omskep.
# Die president van Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa, het vir die eerste keer in die openbaar kommentaar gelewer oor Zimbabwe se Grondwetlike Wysigingswetsontwerp Nommer Drie, wat daarop gemik is om sy termyn van 2028 tot 2030 te verleng. Die wetsontwerp stel ook voor dat die presidensiële populêre stem vervang word met ‘n parlementêre stembusstelsel. Mnangagwa sê burgers is ‘n redelike geleentheid gegee om hul menings uit te spreek tydens die landwye konsultasieproses. Die wetsontwerp word nou na die Parlement se Justisiekomitee verwys waar dit bespreek sal word wanneer die wetgewers volgende maand hul sittings hervat.
# Gholf: LIV Gholf soek volgens berigte ongeveer 4,15-miljard-rand in beleggingskapitaal ná vanjaar. Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds het verlede maand aangekondig dat hy nie meer die liga na hierdie seisoen gaan befonds nie. Die soewereine welvaartfonds het sy strategie verskuif na binnelandse programme en sny uitgawes aan globale ondernemings wat nie opbrengste lewer nie. LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, kyk glo ook na ‘n sekondêre beleggingsplan van 2,5-miljard-rand, afhangende van spanverkope en ‘n nuwe mediaregte-ooreenkoms wat die gaping kan oorbrug.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-923-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-509-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….