Nuus 18:00
BULLETIN 14 Februarie 8 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ACDP beklemtoon die erkenning van Israel se bestaansreg in die Gaza-konflik
# Die Tesourie se verslag onthul die kommerwekkende toestand van ondernemings in staatsbesit se finansies
# En, die Regering steek ‘n stokkie voor ‘n ysterertsmyn van 15-miljard-rand in Richardsbaai
# Die ACDP se leier, Kenneth Meshoe, glo regeringspogings sal nie die oorlog in Gaza oplos nie en stel voor Hamas moet beïnvloed word om gyselaars vry te laat as ‘n oplossing. Hy het tydens die debat oor die staatsrede ‘n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om te eis Hamas moet sy tonnels vernietig en Israel se bestaansreg erken. Hy het ‘n waarskuwing uitgereik deur middel van Bybelse aanhalings:
# Die DA sê die Nasionale Tesourie se onlangse vrystelling van die derde kwartaal-staatsbestedingsverslag openbaar ‘n ontstellende finansiële spiraal in staatsondernemings. Eskom, wat geskeduleer is vir ‘n reddingsboei van 254-miljard-rand, toon ‘n aansienlike verlies van 7,5-miljard-rand, en munisipale skuld skiet die hoogte in tot 75,4-miljard-rand. Ander beleërde ondernemings sluit in die Land Bank, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Transnet en Denel, wat almal aansienlike verliese trotseer. DA-lid, Ashor Sarupen, kritiseer die ANC se reddingsboei-benadering en waarsku teen ‘n spiraal wat langtermyn fiskale volhoubaarheid, noodsaaklike dienste en algehele ekonomiese groei in gevaar stel:
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie het omgewingsklaring geweier vir Jindal Steel and Power se ysterertsmyn ter waarde van 15-miljard-rand in Richardsbaai, KwaZulu-Natal. Kommer sluit in moontlike uitwerkings op waterdraers en afloopwater na nabygeleë plase, sowel as die verskuiwing van talle huishoudings. Die voorgestelde myn, wat 70-kilometer binnelands vanaf Richardsbaai-hawe geleë is, word verwerp weens onvoldoende navorsing oor die potensiële uitwerking daarvan op nabygeleë waterbronne. Jindal het ten doel gehad om sy mynbou-onderneming te bevorder, maar die departement se vereis daar moet ‘n deeglike beoordeling wees voor grootskaalse projekte goedgekeur word.
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het kommer uitgespreek oor wat hy noem, sekere aannames deur die Mededingingskommissie in sy aankondiging oor ‘n markondersoek na die pluimveebedryf se waardeketting. Die kommissie verwys na moontlike struikelblokke vir mededinging binne die pluimveemark. Die vereniging maak beswaar teen die kommissie se aanmerkings oor voortdurende eise vir reddingsboeie deur middel van verhoogde tariewe en teenstortingsheffings. Die vereniging vra groter steun vir die bedryf in die lig van hierdie uitdagings.
# Krieket: Die kampioen, Sunrisers Eastern Cape, en naaswenner, Durban’s Super Giants, het die meeste spelers in die SA20 se span vir die seisoen, saamgestel met die hulp van krieketontleders CricViz. Sunrises word verteenwoordig deur Tom Abell, Tristan Stubbs, Marco Jansen, Dan Worrall en Ottniel Baartman, en Durban deur kaptein Keshav Maharaj, Heinrich Klaasen, Wiaan Mulder, Noor Ahmed en die 12de man, Matthew Breetzke. Ryan Rickelton van M-I Cape Town en Jos Buttler van Paarl Royals voltooi die 12 name.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-875-dollar-4-sent. Die prys van goud is een-duisend-990-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….