Nuus 18:00
BULLETIN 6 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille sê die Stad Johannesburg staan voor ‘n finansiële ineenstorting met skuld van meer as 25-miljard-rand
# Die Black Conveyancers Association vra vir die hervorming van ongelykheid in die eiendomsmark
# En, Amerika en Iran nader ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig
# Die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Helen Zille, sê die Stad is in werklikheid bankrot. Dit volg nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, in ‘n brief aan burgemeester Dada Morero onthul het dat die metro 25-miljard-rand aan krediteure skuld terwyl hulle slegs vier-miljard-rand in kontant het, wat ‘n tekort van meer as 21-miljard-rand laat. Zille het aan die media gesê die haglike finansiële posisie is die kern van mislukte dienslewering, insluitend volgehoue krag- en wateronderbrekings:
ActionSA sê intussen die Nasionale Tesourie het ‘n waarskuwing gerig oor die Stad Johannesburg se finansiële bestuur en waarsku oor mislukkings in bestuur, stygende skuld en nie-nakoming van regulasies. Woordvoerder Mongezi Ntsebenzo sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die stad opdrag gegee om ‘n salarisooreenkoms te staak wat as onbekostigbaar beskou word. Hy waarsku verbintenisse moet wettig en volhoubaar wees en vra dringende ingryping om die stad bestendig te maak:
# Die Black Conveyancers Association het herhaal die ongelykheid in Suid-Afrika se eiendomsmark duur voort. Die tweede adjunkpresident, Pumla Mncwango, waarsku swart oordragbesorgers word steeds van hoëwaarde-transaksies uitgesluit. Mncwango sê strukturele hindernisse bevoordeel gevestigde deelnemers en daarom doen die vereniging ‘n beroep op hervormings en sterker implementering van die Regsektorkode om billike toegang en inklusiewe groei te verseker:
# Amerika en Iran is na aan ‘n ooreenkoms om die Midde-Oosterse oorlog te beëindig. Die Amerikaanse media-agentskap, Axios, berig die Withuis is van mening ‘n ooreenkoms in ‘n eenbladsy-versoekskrif kan moontlik vyandelikhede beëindig. Die berig volg enkele ure nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, ‘n vlootoperasie opgeskort het wat drie dae tevore begin het om die Seestraat van Hormoes te heropen. Dit het wêreldwye oliepryse laat daal, met die prys van Brent-ru-olie wat met meer as agt-persent gedaal het tot nagenoeg 100-dollar per vat.
# Rugby: Die Walliese heelagter, Leigh Halfpenny, gaan aan die einde van die huidige seisoen uittree. Hy het die laaste van sy 101 toetse vir Wallis in 2023 gespeel en ook aan drie Britse en Ierse Leeus-toere deelgeneem. Die 37-jarige sluit sy klubdeelname by Cardiff af na hy ook vir Toulon, Scarlets, die Crusaders en die Harlequins uitgedraf het. Hy sê om vir sy unie te speel was nog altyd ‘n droom van sy kinderjare af. Die lewenslange president van die Cardiff Rugby, die voormalige Leeus-speler, Gareth Edwards, beskryf Halfpenny as een van die sport se grotes.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-377-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-707-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….