Nuus 18:00
BULLETIN 5 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident Paul Mashatile moedig belegging aan in Afrika-erfenis
# Die Vryheidsfront Plus steun oproepe om NSFAS te skrap
# En, Pete Hegseth waarsku Iran teen oorweldigende en verwoestende Amerikaanse vuurkrag
# Die adjunkpresident Paul Mashatile sê Afrika moet erfenis as ‘n ekonomiese dryfveer beskou. Mashatile het tydens Afrika-Wêrelderfenisdag en die 20ste herdenking van die Afrika-Wêrelderfenisfonds die groei in erfenisterreine en vaardigheidsontwikkeling beklemtoon. Mashatile waarsku baie terreine is steeds onderbefonds en het ‘n beroep gedoen op sterker vennootskappe en beleggings. Hy sê erfenis kan toerisme ‘n hupstoot gee, werk skep en ontwikkeling ondersteun, indien dit behoorlik bestuur en in ekonomiese beplanning geïntegreer word:
# Die Vryheidsfront Plus sê die feit dat die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente weer onder administrasie geplaas is weens bestuurs-mislukkings, beklemtoon diepgaande probleme. Wynand Boshoff van die party vra ‘n volledige hersiening van die stelsel. Hy sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het voorheen voorgestel die stelsel moet geskrap en vervang word met ‘n stelsel waarby banke betrokke is:
# Die DA vra ‘n onafhanklike oudit van verkragtingsake weens kommer oor teenstrydighede in polisiesyfers. Volgens die party het die Suid-Afrikaanse Polisiediens erken dat 837 verkragtingsake die afgelope drie boekjare gesluit is omdat slagoffers nie opgespoor kon word nie. Hy voer aan dit weerspieël ‘n dieper mislukking in die hantering van geslagsgeweld. Woordvoerder Lisa Schickerling sê dringende hervormings is nodig om openbare vertroue te herstel en geregtigheid vir oorlewendes te verseker:
# Die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, het vroeër vandag ‘n inligtingsessie oor die Iran-oorlog by die Pentagon in Washington, DC, gehou. Hy sê die werksaamhede om kommersiële skepe in die Seestraat van Hormoes te beskerm, is tydelik en die vier weke oue wapenstilstand is nog van krag. Hy sê die wapenstilstand geld beslis op die oomblik, maar hulle sal die situasie baie noukeurig dophou. Hy het Iran gewaarsku as hy Amerikaanse troepe en kommersiële skepe aanval, dit sal lei tot oorweldigende en verwoestende Amerikaanse vuurkrag:
# Sokker: Miljoene ondersteuners in Indië en China is onseker of hulle Wêreldbeker-wedstryde sal sien weens ‘n dooiepunt oor uitsaairegte in die wêreld se twee digs-bevolkte lande. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het ‘n gesamentlike onderneming in Indië se aanbod van 335-miljoen-rand vir uitsaairegte verwerp. Daar is ook nog geen ooreenkoms aangekondig vir China nie, wat tydens die vorige toernooi in 2022 verantwoordelik was vir net minder as die helfte van alle kykure op digitale en sosiale mediaplatforms. Reuters berig FIFA het uitsaaiooreenkomste in meer as 175 gebiede gesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-344-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-578-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 109-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….