Nuus 18:00
BULLETIN 4 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement sê daar is geen rede tot paniek ná die siekte op ‘n passasierskip nie
# Oostenryk verban drie Russiese diplomate oor spioenasie
# En, Rugby: Daar is baie op die spel vir die drie Suid-Afrikaanse spanne wat steeds in die wedloop is vir VRK-uitspeelwedstryde
# Die Departement van Gesondheid het die publiek gerusgestel en gesê daar is geen rede tot paniek na die dood van drie mense wat ná ‘n Atlantiese vaart positief getoets het vir die hantavirus. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes doen kontakopsporing, terwyl die Wêreldgesondheidsorganisasie ‘n internasionale reaksie lei om die uitbreking te beperk. Foster Mohale van die departement sê daar is min gevaar vir die publiek:
# ActionSA sê die ontvoering van Mazwi Mpumelelo Kubheka en burgerlike mobilisering deur die March and March-beweging het die debat oor wetstoepassing en staatsbestuur hernu. Mongezi Ntsebenzo van die party sê hoewel immigrasiebeleid ‘n nasionale verantwoordelikheid is, moet munisipaliteite hul rol speel deur verordeninge toe te pas en orde te handhaaf. Hy sê met die naderende verkiesing, is die fokus op optrede oor alle afdelings van die regering om konsekwente toepassing van die oppergesag van die reg te verseker:
# ‘n Grondwaterwetenskaplike, Surina Esterhuyse, sê die Departement van Water en Sanitasie se voorgestelde regulasies is ‘n belangrike stap om oorbenutting en besoedeling te bekamp. Die konsepreëls sal boorgat-registrasie, watermonitering en strenger boorstandaarde vereis. Esterhuyse waarsku egter die departement kan nie klimaat-gevare aanpak namate Suid-Afrika warmer en droër word nie. Sy skryf in ‘n meningsartikel op Money Web namate die vraag na water toeneem, word grondwater dikwels as ‘n toeganklike watervoorsieningskeuse beskou. Sy waarsku bevolkingsgroei en verstedeliking verhoog hierdie druk.
# Oostenryk het drie Russiese diplomate as persona non grata verklaar oor ‘n “antennawoud” op die dakke van diplomatieke geboue wat vir spioenasie gebruik kan word. Die minister van Buitelandse Sake, Beate Meinl-Reisinger, het in ‘n verklaring gesê dit is onaanvaarbaar dat diplomatieke immuniteit gebruik word vir spioenasie-aktiwiteite. Sy het bevestig die drie diplomate het reeds die land verlaat. Oorstenrk het benewens hierdie drie, sedert 2020 al 14 Russiese diplomate uitgeskop. Die stap volg navorige uitsettings in 2023 en 2024 om geheime Russiese operasies op Oostenrykse bodem te beperk, wat dikwels beskryf word as ‘n spilpunt vir buitelandse intelligensie.
# Rugby: Daar is baie op die spel vir die drie Suid-Afrikaanse spanne steeds in die wedloop vir die Verenigde Rugbykampioenskap se uitklopfase. Die Stormers is tans bo-aan die punteleer met twee groepswedstryde oor, die Leeus is derde en die Bulle sewende, met die top-agt wat in aanmerking kom vir die kwarteindronde. Die Stormers speel hul oorblywende groepswedstryde teen Ulster in Ierland en teen Cardiff in Wallis. Die Leeus pak Leinster en Munster in Ierland, en die Bulle is gasheer vir die Italiaanse spanne Zebre Parma en Benetton in Pretoria.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-578-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-530-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 112-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….