Nuus 18:00
BULLETIN 29 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris Puleng Dimpane belowe om die SAPD skoon te maak te midde van bewerings oor korrupsie en bedrog in stelsel
# Ekonoom, Sifiso Skenjana, vra vir hervorming van die brandstofprysstelsel te midde van ‘n wisselvallige olieprys
# En, Sokker: Kaizer Chiefs se mede-afrigter, Khalil Ben Youssef, is vol vertroue spelers van Kaizer Chiefs kan vir Bafana oorweeg kan word
# Die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Puleng Dimpane, beloof ‘n groot skoonmaaksessie in die polisiediens en onderneem ook om korrupsie aan te pak, dissipline te verbeter en openbare vertroue te herstel. Die aankondiging volg op groeiende openbare kommer oor misdaad en wetstoepassing se doeltreffendheid, met hernude fokus op interne hervormings landwyd. Dimpane het nadat sy die amp aanvaar het gesê beamptes wat die wet oortree, sal tot verantwoording geroep word en prestasiestandaarde sal strenger toegepas word. Sy het haar ook daartoe verbind om gemeenskapspolisiëring te versterk en reaksietye te verbeter.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die regering se verlenging van die verligting van die verhoging van die brandstofprysheffing vir Mei en Junie is ‘n positiewe stap. Matthew Parks van Cosatu sê meer verligting kan nodig wees indien die konflik in die Midde-Ooste voortduur. Hy sê hulle is bekommerd dat werkers, die samelewing en die ekonomie nie die beoogde verlaging in die brandstofheffing teen middel Junie sal oorleef nie:
Intussen bepleit die ontwikkelingsekonoom van ESG Analytics, Sifiso Skenjana, die dringende hervorming van Suid-Afrika se brandstofprysstruktuur en waarsku die huidige stelsel plaas baie druk op verbruikers. Hy sê belasting, heffings en verspreidingskoste vorm ‘n groot deel van brandstofpryse, wat die uitwerking van internasionale oliewisselvalligheid vererger. Skenjana voer aan tydelike verligtingsmaatreëls is nie genoeg nie en langtermyn strukturele veranderings word benodig om pryse bestendig te maak, huishoudings te beskerm en deursigtigheid oor die bepaling van brandstofkoste te verbeter.
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê die nuwe reservoir- en toringontwikkelings in Brixton, Johannesburg, sal watersekerheid versterk. Sleutelfasiliteite soos die Rahima Moosa Moeder-en-kind-hospitaal, die Helen Joseph-hospitaal, die SABC en die Universiteit van Johannesburg sal baat vind. Die minister sê Suid-Afrika het voldoende waterbronne, maar verouderde infrastruktuur, onwettige verbindings en wanbetaling bly groot uitdagings wat betroubare dienslewering in munisipaliteite beïnvloed:
# Sokker: Kaizer Chiefs se mede-afrigter, Khalil Ben Youssef, sê verskeie spelers van die klub verdien om by Bafana Bafana se spelersgroep ingesluit te word. Hy het reageer nadat geen van sy spelers by onlangse spelersgroepe ingesluit is nie. Youssef glo dat minstens vier Chiefs-spelers in aanmerking kan kom op grond van hulle bestendigheid en uitstekende spanwerk. Hy sê Brendon Petersen, Bradley Cross, Lebo Maboe en Thabiso Monyane is goed genoeg en moet beloon word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-646-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-524-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….